Bros krokette met 'n mac en – kaasvulsel gedoop in 'n geurige chakalaka doopsous is die perfekte voorgereg of happie. Die mac en kaas deel van die resep kan ook gebruik word vir die borsstuk "sandwich" met ranch-sous resep.
Persone 6

Bestandele
  

  • 225 g macaroni
  • 1/4 koppie botter
  • 1/4 koppie meel (witbrood of koekmeel)
  • 1 1/2 tot 2 koppies melk (jy soek 'n dik sous sodat dit makliker skep en balletjies vorm)
  • 2 koppies kaas (ek gebruik helfde cheddar en helfde parmesankaas)
  • 2 knoffelhuisies opgekap (vervang met 'n eetlepel gedroogde knoffelvlokkies)
  • 1/2 teelepel neutmeskaat
  • sout en witpeper na smaak

Krokette

  • 1/2 koppie mozzarella of cheddarkaas in 1 1/2 by 1 1/2 cm blokkies gesny ('n blokkie per kroket)
  • olie vir diepbraai
  • 3 groot eiers geklits
  • 1 koppie meel vir doop
  • 3 koppies broodkrummels (ek verkies panko broodkrummels)

Chakalaka doopsous

  • 1 medium ui opgesny
  • 2 knoffelhuisies opgesny
  • 1 groot duim gemmer opgesny
  • 2 rissies opgesny (opsioneel)
  • 1 wortel opgesny
  • 2 medium tamaties opgesny
  • 1 rooi soetrissie opgesny
  • 1 eetlepel kerriepoeier van jou keuse
  • 1 eetlepel tamatiepasta
  • 2 eetlepels blatjang (of volgens smaak)
  • 1/2 blikkie gebakte bone
  • 2 koppies water

Instruksies
 

Mac en kaas

  • Kook die pasta tot goed gaar en dreineer. Hierdie resep word nie verder in die oond gebak nie. Jy wil die pasta goed gaar maak sodat dit makliker bind in die krokette.
  • Smelt die botter in 'n pan. 
  • Voeg die meel by en roer goed.
  • Kook nog 'n paar minute.
  • Voeg die melk baie geleidelik by en roer aanhoudend. Ek gebruik 'n gewone klitser wat enige klonte verwyder.
  • Voeg die neutmeskaat, sout en peper by.
  • Voeg die kaas by en smelt in die sous.
  • Indien jy die krokette maak, laat die pasta afkoel in die yskas
  • Vir die borsstuk "sandwich" kan jy dit nou direk op die borsstuk skep.

Krokette

  • Maak golfgroote balletjies met die mac en kaas en druk 'n stukkie mozzarella-kaas in die middel.
  • Vou toe en druk goed bymekaar. 
  • Plaas die balletjies op 'n bord gesmeer met olie en plaas in die yskas vir so 10 minute terwyl jy die meel, eier en brood gereed kry.
  • Doop balletjies in meel, eier en dan in die broodkrummels
  • Doop weer in eier en dan broodkrummels om seker te maak die balletjie breek nie oop tydens die diepbraai nie
  • Plaas die balletjies vir 'n uur in die vrieskas
  • Verhit olie (toets of dit gereed is met 'n broodkrummel, sodra dit in die olie goed borrel is dit gereed)
  • Plaas die balletjies versigtig in die olie en diepbraai tot goudbruin
  • Verwyder van die olie met 'n groot lepel en plaas op kombuispapier om oortollige olie te absorbeer
  • Bedien met die chakalaka doopsous

Chakalaka doopsous

  • Braai die ui, knoffel, gemmer en rissie in 'n pan met olie tot sag
  • Voeg al die ander bestanddele by die pan en prut tot verdik en al die groente sag is
  • Laat dit afkoel en blits tot glad