Staanrib is 'n groot gunsteling in ons huis en perfek vir lang somersdae met krieket in die agtergrond. Die belangrike balans tussen 'n sagte, sappige rib en die bros buitelaag wat met die lang braaiproses vorm is die grootste uitdaging. Ons geniet lam en skaaprib. Onthou die jammerlappies!
Kooktoerusting
- groot rooster sodat die rib plat en staande kan braai.
- 'n plat bak wat onder die rib kan staan om die waardevolle vet te vang en jou braai area skoon te hou.
- spuitbotteltjie vir jou olie en suurlemoen of asyn.
- 'n staander om die rooster op te balanseer (sien foto by stappe onder).
Bestandele
- sout
- peper
- geroosterde koljandersade grof gemaal
- 1 koppie olie
- 1/3 koppie suurlemoensap of asyn
Instruksies
- Die hoeveelheid uur wat die rib benodig om sag te raak hang af van hoe groot die rib is, maar dit neem ons gewoonlik so 4 ure.
- Sprinkel die rib met sout, peper en koljander. Herhaal die proses elke uur.
- Maak die rib staande, ongeveer 60 – 80 cm van 'n brandende vuur. Jy kan die rib nader plaas, maar dan moet jou vuur op laer temperatuur brand.

- Meng die olie en suurlemoensap of asyn saam en plaas dit in 'n spuitbotteltjie. Skud die botteltjie elke keer voordat jy die rib spuit. Spuit elke 30 minute om die rib vogtig te hou.

- Jy wil he die rib moet binne sag wees met 'n lekker bros lagie buite. Pasop dat die buitelaag nie te donker raak nie. Dit sal na brand smaak.
- Jy moet eers kleur na 30 min begin sien. Draai die rib elk 20-30 minute. Jy kan ook die dikker kant laat leun in die rigting van die vuur en/of draai die rib na 'n uur in die rooster sodat die dikker kant weer meer hitte kry. Dit is soos 'n 2-jarige kind, hou dop.

- Die staanrib is gereed sodra die rib slap kan buig en vleis maklik van die been loskom.

