Spanakopita is 'n spinasiepastei wat in Griekeland, Bosnië en Herzegovina en Turkye geëet word. Jy sien dit gereeld in 'n samoosa-vorm met 'n klein bietjie spinasievulsel. Hierdie is 'n lekker groot pastei.
Bestandele
- 600-800 gram rou spinasie opgesny Maak seker dat jy die spinasie deeglik afspoel om enige sand te verwyder.
- 2 handevol platblaarpietersielie fyn gekap Onthou om eers die pietersieliestingels te verwyder.
- 1 groot ui, fyn gekap
- 3 preie opgesny in blokkies
- 2 knoffelhuisies, fyngekap
- 2 eetlepels olyfolie
- 4 eiers
- 250 gram kwaliteit fetakaas, gekrummel Die verouderde skaap- en koeimelkfetakaas is die tradisionele kaas om te gebruik.
- 1 koppie ricotta Ek voeg die ricotta by om 'n meer ingetoë smaak aan die gereg te gee.
- 2 teelepels gedroogde dille Vars dille is ook heerlik.
- varsgemaalde swartpeper
- 1/2 teelepel neutmuskaat
- 1 filodeeg Jy benodig genoeg filodeegvelle om vyf filodeegvelle bo-op mekaar onder in jou pan te lê en nog vyf filodeegvelle om bo-op die vulsel in jou pan te laag.
- 1 koppie ekstra suiwer olyfolie of gesmelte botter
- sout
Instruksies
- Kook jou spinasie met 'n bietjie sout en peper totdat al die water verdamp het. Doen dit oor lae temperatuur en roer gereeld. Jy wil nie enige vog in die spinasie hê nie.
- Braai die ui, preie en knoffel in 'n bietjie olie tot sag.
- Voeg die gekapte pietersielie en dille by en kook vir nog 5 tot 10 minute en laat dit afkoel.
- Klits die eiers en voeg die ricotta, sout, peper en neutmuskaat by en meng deur.
- Sodra die spinasie en ui afgekoel het, meng die eier- en ricottamengsel met die spinasie en uie en meng goed deur.
- Voeg die gekrummelde fetakaas by die mengsel en meng deur.
- Smeer van die olyfolie of botter in jou pan wat jy wil gebruik en maak seker dat jy die binnekant goed bedek.
- Plaas die eerste laag filodeeg in die bodem van die pan. Smeer van die olie of botter oor die laag en plaas die volgende filodeeglaag bo op. Herhaal die proses totdat jy 5 filodeeglae bo op mekaar het.
- Plaas die spinasie, ricotta en feta-mengsel in jou pan bo-op die filodeeg. Smeer dit eweredig en begin die volgende vlak filodeeg bo-op die spinasiemengsel plaas soos wat jy met die onderste vlak gedoen het.
- Onthou om 'n bietjie olyfolie of botter tussen elke vel te smeer, asook bo-op die laaste vel.
- Verhit jou oond tot 180°C.
- Voordat jy die pastei in die oond plaas, sny porsies deur die bokant van twee filodeeglae. Moenie heeltemal deur sny nie. Dit sal dit makliker maak om die spanakopita te bedien
- Bak tot goudbruin. Haal dit uit die oond en laat dit vir 10 minute rus.


