Ek het aanlyn gevra en opgelees oor wat hulle in Australië braai of te wel op die "barbie" sit vir die Bokke se wedstryd "down under". Sover ek verstaan braai hulle meestal met gas en natuurlik word lam en steak ook gereeld voorgesit. Geniet 'n burger soos wat die Australiërs dit geniet, met beetrelish. Die relish bied 'n heerlike soet en suur element vir die burger met die ryk aioli.
Bestandele
- 6 Deli-co se gourmet burger patties
- 6 burger-broodrolletjies
- kaas genoeg om op elke burger te plaas
- 4 tamaties gesny vir die burger
- slaaiblare
- 500 g gaar beet
- 1 klein ui
- knippie sout
- 1/4 koppie balsamiese asyn
- 1/2 koppie water
- 1/2 teelepel fennelsaad (opsioneel)
- 1 klein stukkie steranys
- 1/4 koppie heuning Jy kan ook gewone suiker gebruik en pas aan volgens soet tand.
Aïoli
- 1 groot eier
- 1 koppie olie Ek gebruik 1/4 olyfolie en 3/4 sonneblom of kanolaolie. Proe en pas aan. Sommige olyfolies kan baie sterk wees en moenie die aioli oordonder nie.
- 1 knoffelhuisie
- 1/2 – 1 suurlemoen se sap
- 1 teelepel dijon mostert
- knippie sout
Instruksies
Beetrelish
- Rasper die beet.
- Voeg die res van die bestanddele by, prut tot dit verdik het. Verwyder die steranys en laat afkoel.
- Afhangend van hoe soet die balsamiese asyn is kan jy suiker byvoeg.
Aïoli
- Plaas die eier en knoffel in 'n houer waarin jy 'n handvoedselverwerker kan gebruik.
- Giet die olie stadig by die eier en blits. Jy gaan dalk nie al die olie gebruik nie.
- Voeg die mostert en knippie sout by en blits.
- Voeg die helfde van die suurlemoen se sap by en blits verder tot jy 'n dik mayonnaise het. Let wel, jy gaan dalk nie al die olie gebruik nie.
- Proe en pas aan met sout en indien jy nodig nog suurlemoensap. Dit hang alles af van hoe suur die suurlemoen is. Sommige suurlemoene is meer soet as ander.
Stel die burger saam
- Braai die Deli-co burger patties soos jy verkies. Ons hou van medium gaar.
- Sodra jy die burger draai, plaas kaas bo op die gebraaide deel en laat dit effens smelt. Ons gebruik 'n groot braaibakdeksel wat ons bo op plaas vir 'n minuut. Dit help om die kaas te smelt.
- Braai die oop broodrolletjies om bietjie kleur te kry
- Smeer 'n teelepel aïoli op die onderste bun
- Plaas die burgerpattie met kaas bo op, gevolg deur die slaaiblare, tamatie (sout en peper), beetrelish en dalk nog so 'n smeersel aïoli bo op die relish.


