Daar was 'n lekker gesprek oor die naam van steak sliders in Afrikaans op my sosiale media. Alles van beeshaas glippers, skuifers en glyers. Helaas het ek besluit ons hou vir eers by steak sliders. Ek het dit vir die eerste keer vir my verjaarsdag gemaak en dit is 'n groot "crowd pleaser". Jy kan die heel mini-broodbolletjies in sekere winkels koop, maar vind 'n resep hieronder om die sagte rolletjies self te maak. Ek gebruik fillet vir hierdie resep omdat dit sag en makliker is om in die broodjies te eet. Jy is welkom om ander steak snitte te gebruik. Onthou om die steak in baie dun skyfies te sny sodat dit maklik eet. Ek braai ook die steak tot blou-rou, want dit gaan aanhou kook in die sliders wanneer jy dit verhit en die kaas smelt.
Bestandele
Sagte broodrolletjies vir sliders
- 1 koppie warm melk 250 ml
- 1 pakkie kitsgis
- 3 eetlepels heuning 45 ml
- 1 ekstra groot eier
- 1 teelepel sout
- 4 eetlepels sagte of gesmelte botter 60 ml
- 3 koppies koekmeel
Vulsel vir die sliders
- 8 groot snye Kaas of 2 koppies gerasperde kaas
- 5 medium groot uie in repe gesny
- 5 eetlepels olie om die uie stadig te braai tot gaar en gekaramelliseer
- 4 medium tamaties in skywe gesny
- pekels soos gherkins of jalapeños in dun skywe gesny
- 1 pakkie peper of sampioensop ek het spur se peper steaksous gebruik
Fillet
- 500-600 gram fillet steak halwe fillet
Bottersous om broodtjies mee te bedruip
- 2 medium knoffelhuisies fyn gekap
- 1/4 koppie botter
- 1 teelepel paprika
- 1 handvol pietersielie fyn opgekap
Doopsous
- 1 medium ui opgesny
- 1 eetlepel olie
- 2 koppies beesaftreksel
- 1 eetlepel botter
- 1 teelepel Worcestershire-sous
- 1/2 teelepel knoffelpoeier vervang met 1 knoffelhuisie opgesny
- sout en swartpeper na smaak
Instruksies
Sagte broodrolletjies vir sliders
- Meng die nat bestanddele
- Voeg die meel by, roer goed deur
- knie die deeg vir 10 minute
- Dit is ‘n klewerige deeg. Jy kan ‘n bietjie ekstra meel byvoeg indien dit te moeilik is om te hanteer
- Laat die deeg vir 1-2 uur rys (deeg wat met botter en eier verryk is rys stadiger)
- Vorm klein balletjies
- Laat weer vir 'n uur rys of tot die broodrolletjies in groote verdubbel het
- Bak teen 180° 20-30 minute.
- Maak die botterknoffelsous halfpad deur die bakproses (sien instruksies hieronder)
- Haal die broodrolletjies uit die oond sodra die broodrolletjies ‘n ligte, gouebruin kleur gekry het
- Smeer die warm broodrolletjies met die botterknoffelsous
Gekaramelliseerde uie
- Braai die uie in die olie oor stadige hitte vir ongeveer 30 – 40 minute tot sag en ligbruin
- Roer gereeld om brand te voorkom
Fillet steak
- Sprinkel die fillet met olie, sout en peper
- Braai die steak op baie hoë hitte tot blou gaar. (Dit gaan verder gaar raak wanneer jy die slider braai. Onthou om gereeld te draai om brand te vermy)
- Rus vir 10 – 15 minute
- Sny in baie dun skywe
Botterknoffelsous om broodtjies mee te bedruip
- Voeg al die bestanddele bymekaar en verhit tot die botter gesmelt is
Doopsous
- Braai die ui tot dit kleur kry
- Voeg die res van die bestanddele by en prut vir 30 minute
- Giet die warm aftreksel deur ‘n sif in klein bakkies en bedien dadelik om broodjies in te doop
Stel die steak sliders saam en braai
- Sny die hele broodrol oop sodat jy dit soos 'n toebroodjie kan oopmaak (sien foto)

- Pak die kaas oor die hele bodem van die broodrol
- Pak die gesnyde steak op die kaas gevolg deur die uie, tamaties en piekel
- Skep van die peper of sampioensous bo oor (sien foto)

- Maak die broodrol toe
- Verhit die heel steak slider in die oond of soos 'n braaiboordjie oor die kole.

- Verwyder van die hitte en sny in individuele porsies
- Bedien die steak sliders op 'n bordjie met 'n individuele bakkie met doopsous vir elke persoon.
Die steak slider sal te dik wees om in 'n rooster te braai. Plaas dit op 'n oop rooster oor matige hitte met 'n groot bak (geskik vir die braai) bo oor die hele slider (sien foto) en plaas kole bo op die bak. Maak seker die bodem brand nie. Bak so tot die kaas gesmelt is.



Dit lyk baie lekker
Voorwaar ‘n resep om voor te sit vir die hele familie en vriende!