Vars, tuisgemaakte roosterkoek
Roosterkoek bly een van my gunsteling en veelsydigste bykosse vir enige braai. Inteendeel, dit kan maar die hoofgereg op my bord ook wees! Daar is soveel vulsel-opsies en jy kan selfs speserye en ander geure by die beslag voeg. Sien ‘n video met stappe hieronder en die volledige lys van bestanddele en metode.
Indien jy ‘n getekende kopie van “Martelize Kook!” vir Kersfees wil bestel, klik op “kontak my” by die opsies bo, stuur ‘n e-pos aan info@martelizebrink.co.za of stuur ‘n direkte boodskap op Facebook.
1 kg witbroodmeel (Hou altyd ekstra meel byderhand)
’n pakkie (10 g) kitsgis
15 ml sout
15 ml suiker of heuning
2 ½ koppies (625 ml) louwarmwater (Hou altyd ekstra water byderhand)
30 ml olyfolie
Hou ekstra meel byderhand vir die hantering van die roosterkoeke
Hierdie hoeveelhede bied ’n sag, stewige deeg vir ’n groot brood. Let wel, meel is soms droeer, afhangend van jou ligging en die seisoen. Hou dus altyd ekstra meel en water byderhand. Nadat jy goed geknie het behoort jy ’n sagte, maar stewige deeg te he wat nie klam aan jou hande vasklou nie.
Meng al die droë bestanddele bymekaar
Voeg water bietjie vir bietjie by tot jy ’n stewige deeg vorm wat maklik knie
Voeg die olie by
Knie vir minstens 10 minute of tot jou hande skoon is. Hoe langer jy knie hoe beter die brood. Voeg meer water of meel by indien jy sien die deeg is te pap of te droog
Laat rys vir so 40 minute of tot dit verdubbel het
Neem ‘n groot handvol van die witbrooddeeg en druk bietjie plat tot ’n langwerpige vorm ongeveer 5 mm dik
Plaas op meelbestrooide oppervlak en laat rys tot die roosterkoeke in grootte verdubbel het
Maak die vuur en krap kole eenkant vir die roosterkoeke. ‘n Matige tot hoe hitte is voldoende. Indien die hitte te laag is raak jou roosterkoek mettertyd te hard en indien die hitte te hoog is begin die roosterkoeke brand voor dit gaar is.
Ek draai die roosterkoeke met die hand, maar hou ’n oondhandskoen byderhand vir die draai van die roosterkoeke ingeval jy bang is vir brand.
Wanneer die kole reg is, plaas die roosterkoeke op die hitte
Hou dop en draai om wanneer dit goudbruin begin raak
Balanseer die roosterkoeke ook op hul kante om te bak
Wanneer die roosterkoeke gaar is sal dit ‘n hol klank he wanneer jy dit liggies slaan. Of druk ‘n mes langs die kant in. Indien dit skoon uitkom, is die roosterkoeke gaar.
Bedien met jou gunsteling vulsel.
Hiert, hoe water my mond nou…
Mens kan sien jy is nie verniet die potjiekos koning se dogter! Maggies hoe lus ek nou vir daardie heerlike warm roosterkoeke
Dit klink uit die boonste rakke! Sal dit so gou moontlik maak! Baie dankie!
Goedheid uit die aarde uit – heerlike boere roosterkoek! Gaan dit so gou moontlik maak!
Hallo Martelize,dankie vir hierdie resep wat presies die stappe verduidelik,en mens moed gee om met suurdeeg te werk!
Ons wil baie graag jou pa se:”Matie Brink se Potjiekos.
Die beste resepte van Matie Brink iewers koop maar kry dit nerens nie.
Ook sy :”Lekker resepte vir die jonger geslag
Matie Brink se ..
Kan jy asb vir my laat weet waar ek dit kan kry?
Ons het sy eerste boek van lank terug af.
Groete,
Eleanor du Plessis
Ek geniet n roosterkoek met net botter op, sodat ek die heerlike smaak van die roosterkoek kan ervaar
Stem Magda daar is niks so lekker soos egte plaas botter op ‘n vars roosterkoek nie.
Wow dit lyk lekker.sal dit met plaasbotter en stroop eet!!!
Nou weet ek presies wat hulle befoel dat jou mond water. Maggies dink moet sommer die naweek n slag weer roosterkoeke bak.
Heerlik! Dankie vir jou resep, Martelize! Ek dink ‘n vulsel van botter, roomkaas, Black Forest ham en ingelegde peppadew-snippers sal ‘n smaaklike maaltyd wees. Geniet jou Kersfees.
Sjoe! Dit klink na ‘n heerlike kombinasie!!
Heuning…..nou soek ek! Defnitief die naweek, maar met daardie groen blik stroop
Botter, avokado en ‘n skyfie tamatie sal die roosterkoek mooi afrond!
Raai wat is op môreaand se spyskaart … roosterkoek met Hanepoot korrelkonfyt! Njammies!
Lieflik!
Dit lyk heerlik! Baie dankie, gaan dit probeer.
Vingers aflek lekker met heuning en kaas..
Martelize jy’s ‘n doring.
Ek gaan nou knie. Gaan een vul met kaas en ham en rissies voordat ek dit bak. Baie dankie.
Heerlik met egte botter en korrelkonfyt!
Hiert hoe water my mond nou. Heerlik met kerriemaalvleis ook❤
Manifigue