Dekadent en morsig. Hierdie "sandwich" soos die Amerikaners na enige iets tussen snye brood verwys is spesiaal vir die Bokke en Nieu-Seeland wedstryd in Baltimore, VSA. Die resep verduidelik hoe jy borsstuk in die Weber kan berook, maar jy kan die borsstuk ook in die oond gaarmaak. Toeskouers by die onlangse sokkerwêreldbeker in die Amerikas het gaande geraak oor ranch-sous. Dit is onweerstaanbaar lekker. Die mac en -kaasresep is onder die resep "Mac en Kaas krokette met chakalaka doopsous".
Bestandele
- 3,5-4,5 kg ontbeende heel borsstuk
- sout en peper
- 1 per persoon burger buns
- braaisous van jou keuse
Ranch-sous
- 1/2 koppie mayonnaise
- 1/2 koppie suurroom
- 1/2 koppie karringmelk
- 1 eetlepel elk droë pietersielie, dille en grasuie of te wel chives (kan ook vars gebruik)
- 1 eetlepel knoffelpoeier
- suurlemoensap na smaak (opsioneel)
Instruksies
- Verwyder enige harde stukke vet van die borsstuk, maar behou minstens so 5 mm vet aan die bokant. Sprinkel 'n goeie hoeveelheid sout en peper oor en plaas in die yskas vir 1-2 dae (langer as jy tyd het – dit verrig wondere vir die tekstuur en sappigheid). Verwyder die borsstuk uit die yskas 1-2 ure voor jy dit in die weber wil plaas sodat dit kamertemperatuur kan bereik.
- Berei jou weber voor vir indirekte kook. Pak 20-30 onaangesteekte brikette, twee-twee langs mekaar, soos 'n slang aan die een kant van die weber.
- Plaas 'n bak op die onderste rooster van die ketelbraaier en plaas water in die bak tot amper vol. Die borsstuk word bo-oor daardie bak op die boonste rooster geplaas. Die bak dien twee doele: Eerstens vang dit die vet en vog op wat van die borsstuk af loop, wat die skoonmaak van jou ketelbraaier vergemaklik. Tweedens, en die belangrikste, dit hou die omgewing vogtig sodat die borsstuk nie so maklik uitdroog nie.

- Plaas ongeveer 10 aangesteekte brikette aan die eenkant van die "slang" wat jy gepak het sodat 'n paar van hulle aan die onaangesteekte brikette raak. Al die brikette sal stadig maar seker brand.

- Plaas jou keuse van hout of houtsaagsels gedeeltelik oor die aangesteekte brikette en gedeeltelik oor die onaangesteekte brikette. Jy kan die borsstuk ook rook sonder hout of houtsaagsels.
- Plaas die borsstuk vetkant ondertoe oorkant die brikette vir 'n indirekte kookproses met die dikste kant na die hitte gerig. ('n Dubbeltemperatuurmeter wat jy in die vleis en in die weber kan los, is goud werd.)

- Maak die weber toe en rook die borsstuk vir ongeveer 4 uur teen 110-120 °C. Probeer dié temperatuur konstant hou.
- Sodra die borsstuk binne-in 60 °C bereik, ná ongeveer 4 uur, verwyder van die hitte en draai toe in klam bakpapier en dan in foelie. Maak seker dit is heeltemal dubbel toegevou en knus toe sonder enige openinge.

- 'n Borsstuk se temperatuur neem baie tyd om van 60 °Ctot 97 °C te styg, maar dit sal wel gebeur. Hulle noem dit die "stall". Plaas nuwe onaangesteekte brikette in die weber indien nodig, sodat jy hitte vir die volgende 4 uur het.
- Plaas die borsstuk terug in die weber, met die dikste kant na die hitte gerig, maak die weber toe en bak verder teen 110-120 °C vir ongeveer 4-6 uur tot die borsstuk 97 °C binne-in bereik.
- Sodra die borsstuk 97 °C bereik het, plaas dit in'n digte verkoelingsboks bo op 'n bak om vog te vang en laat dit vir minstens 2 uur rus of, indien daar tyd is, tot 4 uur. Dít is een van die belangrikste stappe in die proses. Dit gee die borsstuk kans om al die sappe weer in te neem.
- Ná die rustyd kan jy die borsstuk teen die grein sny en bedien soos jy verkies. In hierdie resep word dit gevlok. Moenie die lieflike vog wat uitgeloop het weggooi nie. Bedruip dit oor die vleis. Borsstuk kan vinnig uitdroog soos jy sny, so sny soos benodig.
Ranch-sous
- Meng al die bestanddele bymekaar en pas aan met sout en suurlemoen na smaak.
Stel die "sandwich" saam
- Pak van die gevlokte borsstuk op die bun, gevolg deur 'n bietjie braaisous, mac en kaas en die ranch-sous bo oor.


