Links, regs, die middel.

Die middel – die heilige posisie van ’n omroeper.

My hele lewe word gedefinieer deur my soeke na die antwoorde op die vraag: “Hoekom doen ’n persoon wat hy/sy doen en dink wat hy/sy dink?” Hoe plaas ek myself in ’n ander persoon se skoene om hom/haar beter te kan verstaan?

Ek glo die enigste manier om probleme in die wêreld op te los, is om die redes vir mense se doen en late te ontdek. Sodra jy verstaan hoekom iemand steel of woede-uitbarstings het, byvoorbeeld, kan jy begin om daardie begrip toe te pas ten einde ’n oplossing vir van die samelewing se grootste probleme te vind. Dus, alhoewel dit ook belangrik is om die simptoom te takel, moet die oorsaak eers oopgevlek en verstaan word. Dit spreek egter nie die persoon vry van die gevolge van hul gedrag nie.

Die middel is die plek waar daardie gesprekke om antwoorde te vind, plaasvind.

Die middel is die plek waar alle opinies ’n stem het.

Ek hoef nie met iemand saam te stem om aan hom/haar ’n plek te bied om sy/haar stem te laat hoor nie.

Die middel is ’n plek waar daar nie op mekaar geskree word nie, maar waar die geleentheid aan ieder en elk gebied word om hul standpunt te stel en om vas te stel waarom hulle daardie standpunt inneem.

’n Omroeper se werk is om stemme uit verskillende oorde te fasiliteer. Vir 16 jaar reeds neem ek daardie heilige posisie van “die middel” as omroeper, waar objektiwiteit ’n voorvereiste is wanneer teenstrydige opinies bespreek word. Dit is soms ’n moeilike taak, aangesien jy ook met jou eie agtergrond na die mikrofoon kom. Vir daardie rede is ek geweldig bewus van my eie sosialisering en lewenservaring. Die posisie van omroeper is nie om kant te kies nie, maar om ’n middeweg tussen opinies te vind.

Waar en hoe vind ons mekaar te midde van die uiteenlopende perspektiewe van die samelewing?

Ons leef in ’n wêreld waar sensitiwiteit vir elke burger se lewenservaring van die uiterste belang is. Ek glo die middel is die plek waar ons ’n pad deur baie van ons uitdagings kan vind.

Die middel hoef nie as swak gesien te word nie. Dit is nie ’n draadsitter-posisie nie, maar maak van diplomasie gebruik om deur middel van versigtig gekose bewoording die verskillende sienswyses van die wêreld en hier in Suid-Afrika te laat hoor. Ek dink oor hoe my woorde ’n ander persoon gaan affekteer. Dit beteken nie dat ek nie reguit en openlik oor ’n saak kan praat nie.

Ten spyte van waar “die middel” tans op die politieke spektrum in Suid-Afrika en elders lê, kan hierdie posisie hopelik gebruik word om begrip tussen Suid-Afrikaners te fasiliteer en stabiliteit binne ons samelewing te bewerkstellig.

Sommiges voel dalk dit is naïef om te dink dat jy die wêreld se probleme deur ’n diplomatieke gesprek kan oplos. Die alternatief is nie ‘n pad vorentoe nie, maar ‘n moeras van konflik en onsekerheid. Ek bly ‘n optimis.

Ek kry jou in die middel.