Genoeg vir 6 mense – verminder gerus

Die gereg is perfek vir koue Wintersdae. Ek het heerlik aan die een gekook en geëet op ‘n reënerige aand in die Kaap. Dit is kos wat my siel gelukkig maak. Ek hoop jy geniet dit net so baie.

1 kg hoender-stukke (afhangend van hoeveelheid mense om jou tafel aansit)
‘n groot ui, opgesny
3 knoffelhuisies
2 duime vars gemmer fyngekap

2 rissies opgekap (opsioneel)

Speserye: (Gebruik wat jy beskikbaar het)
5 heel cardamom-peule
heel kaneelstokkie
2 heel steranys
1 eetlepel komyn
1 teelepel vinkel-saad
4 naeltjies
2 loerierblare
peper
handvol kerrieblare (vars, indien moontlik)
1 eetlepel kerrie-poeier of garam masala
(ander speserye soos gemaalde kojander, paprika, mostertsaadjies sal ook lekker werk)

1 blikkie goeie kwaliteit tamaties
2 koppies groente of hoenderaftreksel (voeg nog sout by na 40 minute se kook indien jy voel dit kort)
1 groot patat in groot stukke opgesny
1 pakkie groenboontjies opgekerf (ongeveer 400 g)
2 repe seldery dun opgesny

250 ml water (hou dop met kookproses en vul aan, indien nodig)
1 x 400 ml blikkie kokosneutmelk
groot handvol vars koljander opgekap (opsioneel)

Afhangend van hoe soet die patat is, sal jy dalk bietjie konfyt, blatjang, suiker of banting-vriendelike soetmiddel moet byvoeg. Proe maar eers na so 30 minute se kook

Sprinkel hoender met sout en braai in die pot tot ligbruin.
Verwyder van die pan (indien jy die vel afhaal hoef jy nie die hoender te braai nie en kan jy dit byvoeg wanneer jy die tamaties in die pot plaas)
Braai uie stadig op middelmatige hitte tot deurskynend en gekaramaliseer (jy wil dit nie te bruin braai nie)
Voeg knoffel en gemmer by en braai vir ‘n minuut
Voeg al die speserye by en braai nog ‘n minuut
Voeg die hoender, tamaties, patat, groenboontjies, seldery, aftreksel, water en die helfde van die kokosneutmelk by en prut vir 30 minute (Ek verkies dat my groenboontjies lekker goed gekook is wanneer dit by ‘n pot of bredie kom, maar indien jy verkies dat dit nog krakerig is, voeg eers later by)
Voeg die res van die kokosneutmelk by en prut tot hoender gaar is (nog ongeveer 40 minute) en meeste van die vog afgekook het
Voeg koljander by net voor opdiening (opsioneel)