Hoekom wag ons altyd so lank voordat ons iets doen wat ons weet geweldig baie plesier gaan verskaf?

So maand gelede vra Amor Engelbrecht van Pasella of ek deel wil wees van ‘n program waar hulle ‘n paar aktiwiteite belig wat nie tradisioneel as “toeganklik” gesien word nie.  Hoekom nie? Sê net ja.

Vicky Davis was die regisseur vir die insetsel wat vanaand op Pasella uitgesaai word met Lynelle Kenned wat saam aanbied.

So begin ek en Vicky met ‘n Whatsapp dinkskrum oor al die verskillende moontlikhede.  Opsies het gestrek van sweef vanaf Leeukop tot toertjies saam met die Madame Zingara-groep.

Uiteindelik onthou ek die Sondag voor die beplande verfilming ‘n onderhoud wat ek jare gelede met Anthony Scholte van Lean 2 Surf gedoen het.   Die volgende oggend bel ek vir Anthony om te hoor of hy dit regtig bedoel het toe hy aangebied het om my te vat vir ‘n surf eendag. Maar die Learn 2 Surf span staan reg vir amper enige iets.

Okei Martelize, so jy gaan branderplank ry (of ‘n weergawe daarvan wat seker meer soos body boarding is…).  “What were you thinking…”

Lekker op my senuwees maak ek die oggend reg vir ‘n dag op die strand met die Pasella en Learn 2 Surf spanne.

(Wenk:  Smeer, smeer en smeer nog sonskerm aan.  En daarna, sit vir jou ‘n hoed ook op, waar moontlik.  Ek het nou nog ‘n lekker komiese bewys van sonbrand op my voete.)

Vinnig skop die oppervlakkigheid in.  Hoe gaan ek lyk in ‘n wetsuit? Help my…

Nadat ek en Lynelle by die Learn 2 Surf hoofkwartiere in Muizenberg onsself in duikpakke ingewurm het was dit tyd om ‘n paar skakels op te neem en die perfekte seetoestande aan te pak.

Terwyl Anthony vir Lynelle met die branderplank op die sand touwys maak sit ek die heeltyd en wonder “Wat op dees aarde gaan Anthony met my aanvang?”

Reg vir enige iets is ek op ‘n strandrolstoel die water in om vir die eerste keer in baie jare die seewater te voel en met ‘n paar ongemaklike slukke die sout te proe. Vir die res van die ervaring moet jy maar vanaand Pasella kyk.  SABC 2 19:30. Al wat ek kan sê is dit was sooooo baie prêt.  (Dankie julle)

Ek het as kind in die see geboer gedurende vakansies en het met hierdie ervaring besef hoe baie ek dit gemis het.

Hoekom wag ons altyd so lank voordat ons iets doen wat ons weet geweldig baie plesier gaan verskaf?

Wat ookal en waar moontlik ‘n ervaring vir jou hierdie gevoel kan gee.  Of dit nou branderplank ry, kajak, rekspring, SUP of daai rugmassering is wat jy al so lank na smag. Sê. Net. Ja. (Al gaan jy jou naam so effe effe &*! maak).

Perdry volgende.

www.pasella.com

www.learn2surf.co.za