“Om ‘n rolstoel by trappe op te wheelie is ook nie sommer ‘n maklike taak nie”
Vir die eerste keer in ses maande kan ek met vrede by die huis kom, by die voorportaal ingaan, die hyser se knoppie druk en sonder moeite by my Seepunt woonstel inkom.
Met my soektog na ‘n woonstel naby werk het ek kragonderbrekings in ag geneem en die kans gevat om ‘n woonstel op die eerste vloer te koop. Die voorportaal is die grondvloer. Nooit in der ewigheid het ek gedink die hyser sal tot so mate versleg dat dit nie meer reggemaak kan word nie, maar totaal vervang moet word.
Na maande se kontrak-drama tussen die beheerliggaam en die diensverskaffer gedurende die feesseisoen is daar uiteindelik met die duur besluit vrede gemaak dat die hyser ten volle vervang moet word.
Hoe nou gemaak? Ek het ander opsies oorweeg. Dalk kan iemand my woonstel huur en ek iewers anders in ‘n woonstel bly tot tyd en wyl die hyser vervang word. Helaas is die mark hier so versadig dat ek by die deur van ‘n gawe Zimbabwiër, kom ons noem hom Dougie, wat die gronde skoonhou aangeklop het. “No worries my sister. I help you”. Ek het hom natuurlik vir sy dienste betaal. Nie dat hy daarop aangedring het nie. Hy het selfs gesê ek moet hom minder betaal as wat ek aangebied het. Om ‘n rolstoel by trappe op te wheelie is ook nie sommer ‘n maklike taak nie. Sy broer het ‘n paar keer ingestaan en dit was maar ‘n geswoeg. Dougie is duidelik ‘n kenner.
Vir die afgelope ses maande het hy my elke oggend terwyl ons die trappe op en af manoeuvre meer vertel van sy lewe. Hoe hy opgelei is as ‘n “Mugabe soldaat” en “nou nie meer ‘n slegte mens is nie”. Toe die koue die Kaap begin tref, het hy soggens in sy t-hemp en kortbroek aangestap gekom. “No my sister. If you saw what they did to us in training. They would throw you into freezing cold water and tell you to stay there. This isn’t cold”.
Sondag was die eerste dag wat hy my nie moes af wheelie nie. “Congratulations my sister”. Dougie bly in sy klein kamertjie reg onder my woonstel. Dankie tog vir die nuwe hyser, maar ek gaan nogal ons soggens en smiddae samesyn mis.
Great storie! Ek is bly die hysbak is nou weer reg… Dougie klink na ‘n wonderlike siel – hy moet sommer sy storie in die ateljee kom vertel! Lekker week verder, Martelize!
nou moet julle nog net daai sign op die studio se muur regmaak…lol…sterkte
Dit is ñ heerlike goed-voel storie,so is daar so baie ‘Dougie’s’ daarbuite wat ons maar net nie van bewus is nie,ek weet Dougie sal vir jou “uitkyk” Martelize,net soos jy vir hom ook sal “uitkyk” Dit gee ñ mens weer moed vir die lewe. Jy is so ñ merkwaardige mens Martelize,geniet jou elke dag op RSG. Groete
More Martelize, jy is ‘n ystervrou 1000 ‘n voorbeeld vir ons wat gesond is en jy wat al so baie uitdagings aangepak het en anderkant vol moed en met nog ‘n oorwinning geëindig het. Ek geniet elke dag om na jou op RSG te luister en elke keer wanneer jy op verskillende kanale optree en ook jou lewensverhaal vertel, hou nooit op nie. Jy is ‘n Groot inspirasie vir elkeen van ons wat gesond is of selfs vir hulle in dieselfde posisie wat jy is, maar dalk wil moed opgee. Hou so aan. Lovies en blessings. Sarie