Go Back
Ons is almal lief vir 'n maklike eenpotgereg. Jambalaya is 'n rysgereg afkomstig van Louisiana in die VSA. Dit het deur Afrika-, Spaanse en Franse invloede ontwikkel. Wes-Afrika en Spanje het hulle eie weergawes van jambalaya gehad. Die tamatie in die pot is deur die Franse aan Wes-Afrika bekendgestel en daarna het hulle dit in 'n eenpot-rysgeregte opgeneem. Spanjaarde het natuurlik paella gemaak.
Gereg Hoofgereg
Persone 6

Bestandele
  

  • 8 gerookte weense worsies of varkworsies in 2 sentimeter lengtes opgesny Jambalaya vra vir Andouille wors. Ongelukkig vind ons dit nie maklik in SA nie.
  • 10 ontbeende hoenderdytjies in blokke opgesny
  • 1 groot ui opgesny
  • 1 stingel seldery in klein blokkies opgesny
  • 3 knoffelhuisies opgesny
  • 1 groensoetrissie in blokke opgesny
  • 1 eetlepel gerookte paprika Kreool of cajun speserye van jou keuse.
  • 1 eetlepel cayenne
  • 1 teelepel witpeper
  • 1 eetlepel tiemie (vars of gedroog)
  • 1 teelepel oreganum
  • 1 eetlepel knoffelpoeier
  • 1 eetlepel uiepoeier
  • 1 tamatieblikkie of passata (400 ml) Indien dit heel tamaties in die blikkie is, sny op in klein stukkies.
  • 1 eetlepel tamatiepasta
  • 2 eetlepels rissiesous van jou keuse 
  • 3 loerierblare (in die aftreksel geweek)
  • 2 1/2 koppies groente of hoenderaftreksel (met die 3 loerierblare)
  • 1 koppies witwyn of water op bystand vir vog  Indien daar te veel vog by die pot gevoeg word raak dit te pap. Voeg dus bietjie vir bietjie by, indien nodig tot die rys net gaar is.
  • 2 koppies basmati-rys
  • 12 garnale (probeer garnale wat op 'n verantwoordelike manier gevang is) Jy kan kies hoeveel per persoon en of jy hou van garnale in die dop met die kop steeds aan. Jambalaya het gewoonlik garnale in wat reeds van die dop verwyder is.
  • 4 sprietuie opgekap
  • suurlemoen vir bediening

Instruksies
 

  • Braai die worsies en dytjies saam tot goudbruin.
  • Voeg die ui, seldery en knoffel by en braai vir ‘n paar minute tot sag.
  • Voeg die speserye, loerierblare, blikkie tamatie, tamatiepasta en rissiesous by en roer goed deur.
  • Voeg die aftreksel by en roer deur. Krap enige stukkies wat onder aan die pot vassit los.
  • Voeg die rou rys by en roer deur.
  • Kook op lae hitte en probeer jou bes om nie te roer nie.
  • Kook vir 10-15 minute en kyk of die rys gaar is.
  • Indien jou hitte dalk te hoog was sal jy van die water moet byvoeg.
  • Sodra die rys net gaar is, voeg die sprietui en garnale by en roer liggies deur.
  • Die garnale gaan baie vinnig gaar raak. Ongeveer 2-5 minute afhangend van hoe groot dit is. Jy wil die nie oorkook nie. Sodra die garnale pienk is, is dit gaar.
  • Bedien met 'n paar sprinkels suurlemoen bo oor.
Sleutelwoorde potjie, rys