“As ek maar net ‘n mikrofoon tussen ons
kon plaas om die gesprek op te neem”
Ná ‘n onlangse toespraak oor gewigsverlies by ‘n oefen-ateljee bevind ek my met ‘n glas “maer meisie”-drankie – ook bekend as vonkelwyn – in die hand in gesprek met ‘n klein groepie van die vroue wat die praatjie bygewoon het.
As ek maar net ‘n mikrofoon tussen ons kon plaas om die gesprek op te neem, sou dit baie goeie insig gegee het op die vroulike psige en hoe haar liggaam daarmee verband hou. Hoe voel ons oor onsself? Hoe belangrik is ons liggaamsbeeld in ons daaglikse lewe? Watter bydrae lewer dit tot ons eiewaarde?
Aan die begin van die aand sit ek en kyk hoe vroue by die geleentheid aankom, en was dadelik bewus dat nie ‘n enkele een regtig oorgewig is nie. Inteendeel, die meeste was sogenaamd normaal gebou. Sommige van hulle oefen gereeld, ander is saamgenooi om inspirasie te kry om ‘n oefenprogram te begin. So sit ek en wonder wat ek hulle nou regtig van gewigsverlies en oefen kan leer as dit op die oog af lyk of hulle dit nie regtig nodig het nie.
Nadat ek my stuiwer in die armbus gegooi het oor gewigsverlies en wat vir my gewerk het, het die terugvoersessies met van die vroue begin. Hulle het gesels oor hul gewigservarings deur die jare en die daaglikse uitdaging wat dit vir hulle inhou. Sommige het gebieg hulle het lanklaas geoefen en eet baie verkeerd, maar is nou weer geïnspireer om aandag aan hul gesondheid te gee.
Later staan ek en die groepie bittereinders en bespreek ons eiewaarde. Wat die een vrou gesê het was vir my as ‘n voormalige oorgewig persoon ‘n openbaring. “My ma sê nou die dag vir my ‘maar julle jong, maer meisies het mos nie probleme nie’. Min verstaan my ma hoe dit elke minuut van elke dag ons aksies regeer. Elke happie kos wat ek in my mond sit…
Geskok sit ek en luister na die slanke, mooi vrou en besef opnuut gewig is selfs vir háár ‘n daaglikse uitdaging. Kyk, dis mos net oorgewig mense wat sukkel met hul liggaamsbeeld. Hoe kan ‘n maer vrou dan nou probleme hê met hoe sy vir haarself in die spieël lyk?
Verder is ons almal natuurlik ook bewus van die wêreld se siening oor maer en oorgewig. Ek het onlangs ‘n onderhoud met ‘n vrou in die ateljee gevoer oor kos en resepte. Aan die begin noem ek aan die luisteraars dat sy net sowel ‘n model kon wees. Toe knik sy instemmend en vertel hoe sy as model nooit toegelaat is om sekere kosse te eet nie. Later het sy ‘n passie vir kosmaak ontwikkel en sy doen nou modelwerk vir die “plus-grootte”-mark. My mond het letterlik oopgeval ná daardie stelling, want hoe maer moet ‘n mens dan nou wees? Net daar het ek maar weer besef hoe belaglik hoog die standaarde vir modelle en as ‘n direkte gevolg ook vir elke vrou is.
Oefening bly belangrik, of jy nou maer is en of jy baie gewig moet verloor. Tog is die vraag: Wanneer sal ons uiteindelik gemaklik en gelukkig met ons liggame wees? Dalk is dit tyd om net so hard te werk aan ‘n gesonde, positiewe verhouding met ons liggaam as wat ons ploeg in die soms ongemak en ontevredenheid wat ons ervaar wanneer ons voor die spieël staan elke oggend.
Martelize,die opmerkings wat jy maak tov selfbeeld geld natuurlik nie net vroue nie maar ook mans.Ek sou n onderskeid tref tussen maer en slank of dan ‘atleties in die geval van mans.Die standaard wêreldwyd ,met enkele uitsonderings,is beslis nie oorgewig nie.Nie eers effens nie.Die vernaamste rede is gekoppel aan gesondheid.En dit het geen verduideliking nodig nie.Maw ons strewe moet nie wees om gemaklik in ons liggame te wees nie maar om ons beste te lyk op enige ouderdom met die gepaardgaande gesondheidsvoordele!Ek verstout my om aanspraak te maak op n liggaamsbou wat baie jonger mense in die skadu sal stel(ek is67jaar oud)en met erkenning aan Die Genade van BO,baie gesond.Mense lewer dikels kommentaar op my voorkoms en dit is baie goed vir my selfbeeld!Maar ek werk daaraan 5 dae n week sonder uitsondering.Behalwe kort vakansies ens.Ek eet ook nie sommer voedsel wat ek weet nie goed is vir my nie.Groete,Louis