Ek is ‘n groot aanhanger van die program House, en dan natuurlik ‘n groot aanhanger van Hugh Laurie, wat die “House” karakter vertolk.  By ‘n onlangse partytjie wat ek bygewoon het, basuin blues uit die luidsprekers.  “Dis Hugh Laurie se nuwe album”, se ‘n vriend. So kuier ek maande later by ander vriende se huis en sien daar le ‘n boek ,“The Gun Seller,” deur…Hugh Laurie.

Ek let toe ook nou die dag op die regisseurs en skrywers se name aan die einde van een van die House episodes en besef daar verskyn Hugh Laurie se naam ook: “uitvoerende vervaardiger”.  Nou kyk, ek het geweet hy is musikaal.  Elke nou en dan skuif hy agter ‘n klavier in op die program House of gryp ‘n kitaar vir ‘n bluessessie en dit is seker ‘n natuurlike progressie om betrokke te raak by die vervaardiging van jou eie televisieprogram, maar outeur op die koop toe?

Uiteindelik kry ek toe kans om ‘n stukkie van die “Gun Seller” te lees.  Briljant, terloops.  Snaaks, boeiend en oorspronklik.  So, Laurie is seker ‘n alleenloper wat heeldag net werk en in ‘n donker kamer sit en tik aan sy volgende spanningsverhaal. Toe nou nie.

Voorin die boek vertel dit ook Laurie is ‘n gelukkig getroude man en pa van drie.  Terwyl ek die lofliedere en CV van Laurie op die boekomslag lees, dink ek dadelik hoe ek glad nie besig is om tot my volle potensiaal te leef nie en dit tyd is om ernstig my talente beter te benut. Halfpad deur die ambisieuse gedagte wonder ek, maar waar de hel kry die ou die tyd?

Goed, so kom ons hou net gou telling, Bekroonde Akteur, Uitvoerende Regisseur (van Bekroonde televisieprogram), hoog aangeskrewe blues sanger, skrywer, musikant, outeur, man, pa en o, ja nou seker nie veel met talent te doen nie, maar hy is ‘n ywerige motorfiets entoesias.  Het ek iets uitgelaat?

Ons kyk dadelik na hierdie supersterre om onsself mee te vergelyk.  As dit nou nie Laurie se vele talente is nie, dan is dit of my been ook so “hot” soos Angelina Jolie s’n kan lyk vanuit die sluiers van ‘n vloeiende fluweelrok.  Nie eens gepraat van haar vermoe om vir Brad Pitt, die VN, haar aktriseloopbaan, regisseursloopbaan en (hoeveel nou weer?) 6 kinders almal gelukkig te hou nie. Ek gee nie om HOE ryk sy is om hulp in te roep nie.

Ek besef meteens, ek het nog altyd daardie voorbeeld gehad.  Die voorbeeld van iemand wat geglo het “daar is altyd genoeg tyd”.   My pa.  In sy jonger dae het hy ter selfde tyd studeer aan sy honneurs-, toe meesters- en uiteindelik doktorsgrade, getroud, met ‘n tweeling by die huis, sport as stokperdjie (omtrent elke dag) en dan het hy nog op die spoorwee ook gewerk om sy gesin te onderhou. 

(My ma wat 5 kinders grootgemaak het is ‘n HELE ander storie).

Miskien is hulle van daardie gelukkige mense wat 4/5 ure slaap ‘n nag nodig het of nooit in hulself twyfel nie, maar dit gee my net weereens daardie standaard van produktiwiteit om na te streef.  Dalk moet mens nie noodwendig jou visier stel op hierdie groot loopbaangeleentheid soos om jou werk te los en ‘n sjef te word nie, maar dalk ‘n interessante kook-sessie bywoon as ‘n stimulerende uitlaatklep na ‘n stresvolle dag of week by die werk.

Ek en ‘n vriendin gesels nou die dag oor hoe moeilik dit moet wees om ‘n hond (om nog nie gepraat van ‘n kind) in te pas in jou leefstyl. Dalk het jy reeds die kinders, eggenoot, hond, goudvis, beminde, tuin en werk daarby, maar jy het steeds die gevoel daar is talente wat jy nog altyd wou ontwikkel?  Iets van jou eie wat jou geweldig stimuleer, maar jy jaar-na-jaar opsy skuif?  Wie weet, jy kan dalk die nuwe J.K. Rowling wees of selfs volgende jaar vir die eerste keer aan die Argus deelneem.

Daai kitaar sit juis dag na dag vir my en loer.  Dit herinner my net aan nog iets wat ek meer tyd en energie aan wil spandeer.

Goed, so nou wag ek net vir my televisie om te breek.  Nog ‘n verskoning om minder tyd te mors.