Lig aan die einde van die hyser
“Om ‘n rolstoel by trappe op te wheelie is ook nie sommer ‘n maklike taak nie”
Vir die eerste keer in ses maande kan ek met vrede by die huis kom, by die voorportaal ingaan, die hyser se knoppie druk en sonder moeite by my Seepunt woonstel inkom.
Met my soektog na ‘n woonstel naby werk het ek kragonderbrekings in ag geneem en die kans gevat om ‘n woonstel op die eerste vloer te koop. Die voorportaal is die grondvloer. Nooit in der ewigheid het ek gedink die hyser sal tot so mate versleg dat dit nie meer reggemaak kan word nie, maar totaal vervang moet word.
Na maande se kontrak-drama tussen die beheerliggaam en die diensverskaffer gedurende die feesseisoen is daar uiteindelik met die duur besluit vrede gemaak dat die hyser ten volle vervang moet word.
Hoe nou gemaak? Ek het ander opsies oorweeg. Dalk kan iemand my woonstel huur en ek iewers anders in ‘n woonstel bly tot tyd en wyl die hyser vervang word. Helaas is die mark hier so versadig dat ek by die deur van ‘n gawe Zimbabwiër, kom ons noem hom Dougie, wat die gronde skoonhou aangeklop het. “No worries my sister. I help you”. Ek het hom natuurlik vir sy dienste betaal. Nie dat hy daarop aangedring het nie. Hy het selfs gesê ek moet hom minder betaal as wat ek aangebied het. Om ‘n rolstoel by trappe op te wheelie is ook nie sommer ‘n maklike taak nie. Sy broer het ‘n paar keer ingestaan en dit was maar ‘n geswoeg. Dougie is duidelik ‘n kenner.
Vir die afgelope ses maande het hy my elke oggend terwyl ons die trappe op en af manoeuvre meer vertel van sy lewe. Hoe hy opgelei is as ‘n “Mugabe soldaat” en “nou nie meer ‘n slegte mens is nie”. Toe die koue die Kaap begin tref, het hy soggens in sy t-hemp en kortbroek aangestap gekom. “No my sister. If you saw what they did to us in training. They would throw you into freezing cold water and tell you to stay there. This isn’t cold”.
Sondag was die eerste dag wat hy my nie moes af wheelie nie. “Congratulations my sister”. Dougie bly in sy klein kamertjie reg onder my woonstel. Dankie tog vir die nuwe hyser, maar ek gaan nogal ons soggens en smiddae samesyn mis.
Sê. Net. Ja.
Hoekom wag ons altyd so lank voordat ons iets doen wat ons weet geweldig baie plesier gaan verskaf?
So maand gelede vra Amor Engelbrecht van Pasella of ek deel wil wees van ‘n program waar hulle ‘n paar aktiwiteite belig wat nie tradisioneel as “toeganklik” gesien word nie. Hoekom nie? Sê net ja.
Vicky Davis was die regisseur vir die insetsel wat vanaand op Pasella uitgesaai word met Lynelle Kenned wat saam aanbied.
So begin ek en Vicky met ‘n Whatsapp dinkskrum oor al die verskillende moontlikhede. Opsies het gestrek van sweef vanaf Leeukop tot toertjies saam met die Madame Zingara-groep.
Uiteindelik onthou ek die Sondag voor die beplande verfilming ‘n onderhoud wat ek jare gelede met Anthony Scholte van Lean 2 Surf gedoen het. Die volgende oggend bel ek vir Anthony om te hoor of hy dit regtig bedoel het toe hy aangebied het om my te vat vir ‘n surf eendag. Maar die Learn 2 Surf span staan reg vir amper enige iets.
Okei Martelize, so jy gaan branderplank ry (of ‘n weergawe daarvan wat seker meer soos body boarding is…). “What were you thinking…”
Lekker op my senuwees maak ek die oggend reg vir ‘n dag op die strand met die Pasella en Learn 2 Surf spanne.
(Wenk: Smeer, smeer en smeer nog sonskerm aan. En daarna, sit vir jou ‘n hoed ook op, waar moontlik. Ek het nou nog ‘n lekker komiese bewys van sonbrand op my voete.)
Vinnig skop die oppervlakkigheid in. Hoe gaan ek lyk in ‘n wetsuit? Help my…
Nadat ek en Lynelle by die Learn 2 Surf hoofkwartiere in Muizenberg onsself in duikpakke ingewurm het was dit tyd om ‘n paar skakels op te neem en die perfekte seetoestande aan te pak.
Terwyl Anthony vir Lynelle met die branderplank op die sand touwys maak sit ek die heeltyd en wonder “Wat op dees aarde gaan Anthony met my aanvang?”
Reg vir enige iets is ek op ‘n strandrolstoel die water in om vir die eerste keer in baie jare die seewater te voel en met ‘n paar ongemaklike slukke die sout te proe. Vir die res van die ervaring moet jy maar vanaand Pasella kyk. SABC 2 19:30. Al wat ek kan sê is dit was sooooo baie prêt. (Dankie julle)
Ek het as kind in die see geboer gedurende vakansies en het met hierdie ervaring besef hoe baie ek dit gemis het.
Hoekom wag ons altyd so lank voordat ons iets doen wat ons weet geweldig baie plesier gaan verskaf?
Wat ookal en waar moontlik ‘n ervaring vir jou hierdie gevoel kan gee. Of dit nou branderplank ry, kajak, rekspring, SUP of daai rugmassering is wat jy al so lank na smag. Sê. Net. Ja. (Al gaan jy jou naam so effe effe &*! maak).
Perdry volgende.
www.pasella.com
www.learn2surf.co.za
Oorlede voor hul tyd
Die oggend toe ek uitgevind het was daar “tegnologiese chaos” in die ateljee en ek moes letterlik die nuus gryp, 20 sekondes voor 09:00 en onvoorbereid die bulletin lees. Ek het met ‘n halwe oor op Monitor gehoor daar is ‘n joernalis op ‘n baie jong ouderdom oorlede, maar die naam het my verby gegaan.
Halfpad deur die bulletin begin ek die storie lees van die oorlede joernalis, Mandy Rossouw. Een van my Hoërskool Gimnasium Alma maters vir wie ek geweldig baie respek gehad het. Geskok en met vier stories nog oor in die bulletin en die dansliedjie wat voorlê na die nuus probeer ek my reaksie bepaal. Wat is nou die regte ding om te doen onder sulke omstandighede
In my geestesoog onthou ek ons tyd op skool en my verjaarsdag partytjie wat sy bygewoon het. Mandy was ‘n wonderlik en geweldige slim persoon.
Na die bulletin besluit ek om op lug my medelye uit te spreek oor Mandy se dood, speel ‘n flits en vra toe maar vir Johan of hy die dansliedjie kan aankondig. Dit het eenvoudig net nie reg gevoel nie.
Dit het my ook herinner aan die tyd toe my pa oorlede was en ek ‘n paar dae daarna ‘n program moes aanbied. Dit was Desember-vakansie en niemand anders was beskikbaar om Reis Sonder Grense saam te stel nie. Net soos daardie dag moes ek voortgaan op lug vir drie ure asof alles normaal is. Mense se lewens gaan mos maar voort. ‘n Ma luister na die program en wag vir die omroeper se beloofde resep. ‘n Student sien uit na die fiksheidsgesprek en ‘n siel op wiele wil uitvind wat daardie week in die Vat 4 kompetisie gewen kan word.
Ek het hierdie blog begin skryf met die gedagte om te gesels oor die impak wat ons op die wêreld het nadat ons die lewe agterlaat, maar ek besef nou ek wil eintlik net sê, daar is baie mense wat ons verlaat “voor hulle tyd”, maar so geweldige indruk op ons lewens gemaak het. Dankie.
Maer vroue het mos nie probleme met hul liggaamsbeeld…?
“As ek maar net ‘n mikrofoon tussen ons
kon plaas om die gesprek op te neem”
Ná ‘n onlangse toespraak oor gewigsverlies by ‘n oefen-ateljee bevind ek my met ‘n glas “maer meisie”-drankie – ook bekend as vonkelwyn – in die hand in gesprek met ‘n klein groepie van die vroue wat die praatjie bygewoon het.
As ek maar net ‘n mikrofoon tussen ons kon plaas om die gesprek op te neem, sou dit baie goeie insig gegee het op die vroulike psige en hoe haar liggaam daarmee verband hou. Hoe voel ons oor onsself? Hoe belangrik is ons liggaamsbeeld in ons daaglikse lewe? Watter bydrae lewer dit tot ons eiewaarde?
Aan die begin van die aand sit ek en kyk hoe vroue by die geleentheid aankom, en was dadelik bewus dat nie ‘n enkele een regtig oorgewig is nie. Inteendeel, die meeste was sogenaamd normaal gebou. Sommige van hulle oefen gereeld, ander is saamgenooi om inspirasie te kry om ‘n oefenprogram te begin. So sit ek en wonder wat ek hulle nou regtig van gewigsverlies en oefen kan leer as dit op die oog af lyk of hulle dit nie regtig nodig het nie.
Nadat ek my stuiwer in die armbus gegooi het oor gewigsverlies en wat vir my gewerk het, het die terugvoersessies met van die vroue begin. Hulle het gesels oor hul gewigservarings deur die jare en die daaglikse uitdaging wat dit vir hulle inhou. Sommige het gebieg hulle het lanklaas geoefen en eet baie verkeerd, maar is nou weer geïnspireer om aandag aan hul gesondheid te gee.
Later staan ek en die groepie bittereinders en bespreek ons eiewaarde. Wat die een vrou gesê het was vir my as ‘n voormalige oorgewig persoon ‘n openbaring. “My ma sê nou die dag vir my ‘maar julle jong, maer meisies het mos nie probleme nie’. Min verstaan my ma hoe dit elke minuut van elke dag ons aksies regeer. Elke happie kos wat ek in my mond sit…
Geskok sit ek en luister na die slanke, mooi vrou en besef opnuut gewig is selfs vir háár ‘n daaglikse uitdaging. Kyk, dis mos net oorgewig mense wat sukkel met hul liggaamsbeeld. Hoe kan ‘n maer vrou dan nou probleme hê met hoe sy vir haarself in die spieël lyk?
Verder is ons almal natuurlik ook bewus van die wêreld se siening oor maer en oorgewig. Ek het onlangs ‘n onderhoud met ‘n vrou in die ateljee gevoer oor kos en resepte. Aan die begin noem ek aan die luisteraars dat sy net sowel ‘n model kon wees. Toe knik sy instemmend en vertel hoe sy as model nooit toegelaat is om sekere kosse te eet nie. Later het sy ‘n passie vir kosmaak ontwikkel en sy doen nou modelwerk vir die “plus-grootte”-mark. My mond het letterlik oopgeval ná daardie stelling, want hoe maer moet ‘n mens dan nou wees? Net daar het ek maar weer besef hoe belaglik hoog die standaarde vir modelle en as ‘n direkte gevolg ook vir elke vrou is.
Oefening bly belangrik, of jy nou maer is en of jy baie gewig moet verloor. Tog is die vraag: Wanneer sal ons uiteindelik gemaklik en gelukkig met ons liggame wees? Dalk is dit tyd om net so hard te werk aan ‘n gesonde, positiewe verhouding met ons liggaam as wat ons ploeg in die soms ongemak en ontevredenheid wat ons ervaar wanneer ons voor die spieël staan elke oggend.
Is jý die vullisdrom, of is jou vullisdrom die vullisdrom?
“As dit nie in die huis is nie, kan jy dit nie eet nie”
My eerste aand in die VSA besluit ek om ‘n ligte ete te bestel in ‘n restaurant. ‘n Nacho voorgereg. Toe die voorgereg op my tafel neergesit word was dit soos ‘n grap. Die ander mense aan die tafel kon nie glo wat hulle oë sien nie. Die sogenaamde voorgereg was genoeg vir 4 mense, as HOOFGEREG. Nou sit jy met ‘n interne stryd. Verlustig jy jouself aan alles voor jou op die tafel staan net omdat daar is, of eet jy soveel soos jy oorspronklik wou eet en los die res? Dis ‘n sonde om kos weg te gooi! Maar ek vra ‘n eenvoudige vraag. Is jý die vullisdrom, of is die vullisdrom die vullisdrom?
Elke jaar het ek maar net weer in die klerewinkels besef, “jy moet alweer die jaar een nommer groter koop”. Baie mense probeer, sonder sukses, keer op keer om op te hou met rook. Tot eendag wanneer alles net reg verloop en hulle hul laaste sigaret rook.
Vir my was dit so. Jou liggaam praat met jou. Ek glo dieselfde geld as dit kom by gewigsverlies. Selfs om, wanneer jy opgehou het met rook, nie weer te begin nie. Dieselfde geld wanneer jy al die gewig verloor het om dit nie weer aan te sit nie.
Vir die volgende paar blogs gaan ek alles wat ek geleer en gedoen het om van ‘n nommer 18/20 tot ‘n nommer 8/10 te beweeg vir jou vertel.
Die grootste stryd is in jou kop. Dit is waar die beheer lê. Om ánders na kos te kyk, is geweldig belangrik. ‘n Eier is nie net ‘n eier nie. ‘n Pakkie skyfies is nie net ‘n pakkie skyfies nie. ‘n Eier bestaan uit verskillende dele, almal baie voordelig vir die mens se dieet, maar die eiergeel bevat byvoorbeeld ook baie vet. Goeie vette, maar dit moet verbrand word. Ek kan dus nie sê, ek eet ‘n omelet van 6 eiers en verwag dit gaan nie ‘n effek op my gewig hê nie, want jy sien, eiers is mos gesond vir jou. Eet eerder 5 eierwitte met 1 heel eier.
Dit is moeilik aan die begin. Jou palet is gewoond aan sekere dinge. Byvoorbeeld “Stir fry”-rys met wit rys is baie lekkerder as bruin rys. Volgraan pasta is aaklig in vergelyking met pasta wat 100% met wit meel gemaak word. Aan die begin trek jou gesig skoon skeef wanneer jy ‘n slukkie neem van daardie swart, bitter koffie. Maar los eers die melk uit en behou die suiker. Ná ‘n ruk los jy die suiker ook stadig maar seker uit.
Voor jy dit weet kan jy jou glad nie indink om koffie met melk en suiker te drink nie. Wanneer jy elemente stadig maar seker by jou dieet inwerk en ander uitskakel, verander jou smaak. Ek eet héérlik aan ‘n eierwit. Dit pla my glad nie om soggens vetvrye jogurt te eet nie, en die smaak van spek word nie meer so baie gemis by ‘n groot ontbyt nie.
Een van die beste wenke wat ek kan bied is: As dit nie in die huis is nie, kan jy dit nie eet nie. Saans, ‘n rukkie nadat ek my gesonde bord kos geëet het, raak ek soms soos ‘n aasdier. Ek soek enige iets om aan te kou. Die kaste word deurgekyk vir al wat ‘n lekkerny is. Dis eenvoudig. As dit nie in die kas is nie, kan ek dit nie eet nie. En jy moet darem baie lus vir iets wees as jy in die kar klim om ‘n pak skyfies of ‘n sjokolade te gaan koop.
Die een tyd wanneer ek wel “verkeerde” kos in die huis het, is wanneer ek mense nooi vir ete. Dan word daar vars brood gebak en ryk hoofgeregte voorgesit. Nagereg met skuimpies en room. My reël. Eet heerlik saam met almal, maar alles wat oorbly word óf met die gaste in oorskietsakkies huis toe gestuur, óf dadelik gevries, óf dadelik vir ‘n behoeftige persoon gegee,. of (ek gaan dalk hel toe vir die een) word dadelik direk in die vullisdrom gegooi.
Óf jý is die vullisdrom, of die vullisdrom is die vullisdrom. Dit gaan in een van hierdie rigtings of dit gaan na my maag toe. Glo my, ek het dit al getoets. Heel onskuldig alles in bakkies geskep en in die yskas gesit om môre vir iemand te gee, en voor jy dit weet het jy nog ‘n paar happe gevat.
Iets wat ek ook met tyd besef het is die geweldige “leuens” wat die “wêreld” aan verbruikers verkoop. Dit word dalk nie met negatiewe bybedoelings bemark nie, maar dit het wel ‘n groot effek op hoe ons verbruik. “Ag, bederf jouself vandag met ‘n stukkie koek.” “Daar is niks fout met ‘n romerige cappuccino elke nou en dan nie.” “Braai ‘n tjoppie en wors. Een keer ‘n week is oukei.” Maar wat gebeur as jy al hierdie “dis oukei”-oomblikke bymekaar voeg? Jy bly sit met ‘n feestafel vol bederf, en weinig dae wanneer jy 100% reg eet.
Die eerste uitdaging dus:. Kyk eerlik na elke liewe ding wat jy in jou mond sit. Dieetkundiges is kenners wat vir jou kan sê presies waaruit bestaan ‘n jellytot en hoeveel tree daardie net-elke-nou-en-dan-onskuldige-jellytot jou gaan kos om af te werk. Glo my, soos ek hier preek, preek ek maar ook elke dag vir myself.
Sterkte met die eerste stap! Dit sal die beste besluit wees wat jy nog ooit in jou lewe geneem het.
Riaan Cruywagen, die legende sit voor mý mikrofoon
“As jy die dag foute gemaak het, vergeet dit
en hoop dit gaan môre beter”.
Elf jaar in radio. ‘n Dekade plus een voel vir my soos ‘n stewige sessie vir ‘n loopbaan. Tog, wanneer ek na ons media-legendes kyk, besef ek ek is eintlik maar nog net ‘n groentjie.
Saans maak hy sy verskyning op die televisie en vertel ons in keurige Afrikaans van die wêreld se gebeure, en ná ‘n halfuur verdwyn hy weer van die kassie af. Hy’s soos ‘n skim. Bestaan nie regtig nie. Asof die Nuus om 7 sy enigste bestaansreg is. Maar by die onlangse KKNK het hy uiteindelik vir my mens geword.
Hy kom aangestap van agter die RSG verhoog. Nogal heel “suave” met sy motorfiets polisieman-sonbril op. “Hallo. Ek luister lekker soggens na julle”. Die legende. Die man wat relevansie afdwing oor generasies heen. ‘n Figuur wat deur beide moderne popkultuur en vooraanstaande leiers op verskillende gebiede in ons samelewing geag word.
Wat’s nuus? Riaan Cruywagen. Wat vra jy vir ‘n legende in ‘n onderhoud? Hoe slim wil jy nou regtig probeer klink? Hoe diep wil jy delf op ‘n KKNK-verhoog met die son wat verbete almal probeer wegsmelt op ‘n laatoggend in die Klein-Karoo?
Voor die program begin het, het hy selfs vertel van sy potjie wat hy jare gelede met my pa gedeel het. Soos dit ook later uit die “stokperdjie” en “wat geniet jy om in jou vrye tyd te doen”-deel van die onderhoud blyk, kook hy nie juis nie, maar ‘n pot, dié het hy al bemeester.
Nadat ons die luisteraars en gehoor verwelkom het by die KKNK, maak hy sy verskyning op die verhoog te midde van luide toejuiging deur mense wat die Maandag spesiaal opsygesit het om hom in lewende lywe te sien.
Riaan, nee, menéér Cruywagen, het ná 47 jaar in die uitsaaiwese besluit om ‘n boek bekend te stel oor sy lewe agter die mikrofoon en voor die kamera. RSG het hom genooi om regstreeks in Oggend op RSG te kom gesels oor die vele hoogtepunte, lesse en staaltjies wat oor die jare heen vir hom uitgestaan het. Van borrelbaddens omring deur meisies in bikini’s tot ‘n ander tipe mikrofoon, kitaar in die hand in ‘n rockvideo en selfs as ‘n aanbieder in die SAMA 18 toekennings.
Jy sien iemand vir jare op teleivisie en wonder water tipe mens hulle regtig is. Daar is ‘n sekere verwagting. Om eerlik te wees het ek iemand vreeslik neus-in-die-lig verwag. Oordrewe ordentlikheid. Ek het die heeltyd gedink ek sal elke woord rondom hom moet tel en te alle tye perfekte Afrikaans gebruik.
Ná die eerste paar vrae besef ek daar is geen rede om bekommerd te wees oor die onderhoud nie. Glad nie geforseerd nie. Jy vra hom ‘n eenvoudige vraag en hy’s meer as gewillig om sy lewe vir jou op ‘n skinkbord uit te lê. Nie net het meneer Cruywagen lekker gesels nie, hy het selfs begin dans op Pieter Smith se TV Keurspel. Gedurende “Heidi” is ons stasiebestuurder, Magdaleen Kruger, sommer vir ‘n langarm-draai op die verhoog gevat.
In Johannesburg gee meneer Cruywagen opleiding aan nuuslesers. Iets wat ek nie self ervaar het nie. Ek vra hom toe watter raad hy het vir ‘n omroeper wat nuus lees. Ek sit en wag vir ‘n in-diepte analise van goeie nuusuitsendings en korrekte uitsprake, maar blykbaar voel sy tong ook soms soos ‘n droë spons wat maar net nie vir daardie oomblik ”Tc”ele van sy lippe kan laat rol nie.
“As jy die dag foute gemaak het, vergeet dit en hoop dit gaan môre beter”.
Dit gebeur min dat ek iemand om ‘n handtekening vra. Ná die onderhoud het hy gesit en tyd afgeknyp om voor in my kopie van Wat’s Nuus te skryf: “Wat ‘n voorreg om ‘n mikrofoon met jou te kon deel. Riaan Cruywagen”. Beskeie neem ek die boek by hom terug.
Ek wonder hoe ons weeksaande gaan verander wanneer meneer Cruywagen eendag besluit om die nuusmikrofoon vir die laaste keer van sy lapel af te haak. Hy is ‘n legende ja, maar nou vir my ook net mens.
Dankie, Riaan!
