Wat is jou gewigsverlies geheim? Hoe kry jy dit reg om altyd so positief te klink? Wat is ster anys en kardemom?

Daagliks ontvang ek e-posse, smse, Tweets en Facebook vrae oor alles van gewig, tot hoe om my kind se “erkenning” dat hy gay is te verwerk.  ‘n Behoefte aan bemoediging gedurende moeilike tye is ook ‘n onderwerp wat in baie van die korrespondensie swaar weeg.

Elke ervaring in my lewe voel soos ‘n roeping.  Soms is dit soos ‘n weerligstraal, ‘n week of selfs dag voordat ek ‘n toespraak moet doen.  Uit die bloute is die onderwerp reg voor my met ‘n oop pad reeds uitgele.  Die eenvoudigste interaksie met ‘n familielid, vriend of luisteraar plant ‘n saadjie in my kop oor hoe om op ‘n klein manier mense te help om deur die lewe te reis.

Jy sal dink dat 3 ure op lug elke dag genoeg geleentheid bied om die verskillende tipes gesprekke te voer en raad te bied, maar ‘n behoefte aan ‘n blog sit al lank in my binneste en daardie saadjie is reg om gewater te word.

Die hele blad is beskikbaar in Afrikaans of Engels. Twitter en Facebook insetsels kan ook hier gelees word.

Om met kos, musiek en fotografie te eksperimenteer is ‘n passie en sal ook op die blog gelaai word.

Dit bied hopelik ook aan die wat nie my toesprake kan bywoon nie toegang tot van die onderwerpe wat ek bespreek, insluitend sosio-politieke kwessies.

Die onderwerpe wat ek aanraak is nie ‘n eenrigtingstraat nie.  Stuur jou opinie, vrae of bykomende raad.

Welkom by ‘n stukkie van my lewe!

This post is also available in: Engels

Pin It on Pinterest

Share This