Nou die oggend stap ek verby ’n man. Duidelik ’n swerwer. Met al sy besittings in hand wonder ek waarheen hy oppad is. Op ’n pragtige mistige oggend knik ons vir mekaar kop in erkenning van mede-bestaan.  In daardie oomblik oppad werk toe was ek net ’n bietjie jaloers op die vryheid wat ek in hom bespeur. Wie is vry?

Maak geld jou vry of breek jy weg van die sisteem en DIT maak jou vry? Is hy ook maar gevange binne sy armoede en swerwer-status? Het hy self op hierdie vryheid besluit of was dit omstandighede wat hom gedwing het om die straat sy tuiste te maak?

Op watter punt besluit iemand om alles op te gee en nie meer perfek vir die samelewing hoef te wees nie. Ironies genoeg in daardie aanname is ook soveel verwagting op hom om “vryheid” te versinbeeld. Is dit hoekom mense van als wegloop? Soms selfs gesin en -selfmoord as die uitweg sien? Te veel geld, groot skuldlas, werk verloor.

Miskien is die regte vraag hoe ons binne die finansiële, sosiale “tronke” wat ons onsself in bevind vryheid skep? Jy kan dit eintlik nie ontsnap nie. Is dit die paar weke van vakansie wat ons onsself elke jaar gun? Rekspring? Stap op die strand? Fietsry?

Kinders het hierdie ongelooflike manier om vry voor te kom. Maar dan begin die wêreld sê, “nee”. Moenie so hardloop nie, hou op spring, rol, skree, luidrugtig lag… Dalk moet ons vroeër begin om sosiale konvensies se mag oor ons te verminder. Wat is vryheid?

Pin It on Pinterest

Share This