Vrees.  Nie vir ‘n inbreker in jou huis nie.  Nie die dood nie.  Nie die gedagte van slange wat in jou bed inkruip nie.  Die vrees om deur ander geoordeel te word.  Die vrees om jou mond oop te maak en te se wat jy dink – en dit hopelik dan te ondersteun met ‘n rasionele argument, feite nagegaan, hardop uitgespreek.

Vriende (en dalk luisteraars) sal lag as hulle dit lees.  Bang was ek nog nooit om te se wat ek dink nie, maar hoe ouer ek geword het, hoe meer en meer diplomaties het ek geraak.  Ek is nog steeds ‘n groot voorstander van die diplomatiese benadering.  Veral as dit kom by omstrede kwessies.  Maar dalk is dit nou tyd om meer gemaklik te raak met jou eie sienings. Om verder te skaaf en te skuur aan daardie sienings. Om in gesprek te tree met mense rondom jou. Vreemdelinge wat jy raakloop in die lewe, “die Ander”.

Onlangs het ek met ‘n Facebook “vriend” begin gesels. “Piet” e-pos my  vanuit sy hospitaalbed.  Die harteenheid, om spesifiek te wees. “Piet” het weer sake vir my mooi in perspektief gestel.  Sy e-posse handel oor hulpeloosheid, moedeloosheid, vrees, die moontlik-naderende-dood. Dankie, “Piet.  Vrees-om-geoordeel-te-word-deur-ander vs Vrees-vir-die-dood.  Daar’s vir jou perspektief, Martelize.

Cliché of de not.  Ons is daagliks so vrek bang dat sekere mense nie van ons gaan hou nie, of dat ons iets gaan se wat iemand nie mee saamstem nie. 

Ek het ‘n ruk terug juis op Facebook genoem dat ek toesprake daaroor begin doen het, na ‘n artikel wat ‘n vriendin vir my uit ‘n tydskrif geknip het.  “Hierso Martelize.  Ek dink jy moet dit lees”. Die artikel?  Uit Cosmopolitan: “’How not to give a f…”.  Want jy sien, ek is nou maar eenmaal een van daai mense wat elke liewe oomblik bewus is van mense rondom my.  Wat hulle doen, dink, benodig.  Soms tot op ‘n punt dat dit my totaal emosioneel uitput.

Ek le met die artikel in die bed ‘n week later.  Eers het ek by myself gedink, nooit wil en sal ek een van daai mense wees wat nie omgee nie, totdat ek die artikel gelees het.  “Daar sal ALTYD iemand wees wat nie van jou hou nie.”  Klik-klik-klik.  Wat ‘n moewiese verligting. Eerlikwaar.  As ek dit op ‘n jonger ouderdom in my lewe geinkoporeer het, was ek al lank al ‘n gelukkiger mens.

Ek gesels toe onlangs met ‘n groep vroue oor hierdie vrees om deur mense geoordeel te word.  ‘n Vrou kom toe na vore en vertel van haar drome om te reis.  Sy het nooit die drome nagevolg nie, want “wat sal die mense se”?  Uiteindelik het sy vir haar man vertel van die begeerte.  Sy het haar tasse gepak, oorsee getoer, gewerk en die wereld uit ‘n hele nuwe oogpunt ervaar.  Haar man het selfs vir haar in Europa gaan kuier.  Dit het nie net ‘n geweldige positiewe effek op haar as individu gehad nie, maar dit het ook haar huwelik nuwe lewe gegee.

Net omdat jy iets doen wat vir jou belangrik is, beteken natuurlik nie jy gee nie om nie.  Ek gaan nog steeds my woorde goed kies as dit by sekere kwessies kom.  Ek gaan nogsteeds vriendelik en bedagsaam probeer wees.  Dit beteken net ek maak vrede met die feit dat dit absoluut onmoontlik is om almal te alle tye tevrede te stel. Dit beteken ek gaan minder bang wees oor simpel goed soos wat iemand (wie ek seker nooit weer gaan sien nie) van my dink.

Ons het net hierdie een lewe. Tree verantwoordelik op, maar moenie dinge uitstel nie, of jou mond hou wanneer jy glo jy iets belangrik moes se nie.  Doen wat in jou hart is. En doen dit Vandag.

So hier is dit nou.  Bietjie rof en tjommel.  Nes ek eintlik maar is.

Pin It on Pinterest

Share This