Vars, tuisgemaakte roosterkoek

Roosterkoek bly een van my gunsteling en veelsydigste bykosse vir enige braai. Inteendeel, dit kan maar die hoofgereg op my bord ook wees! Daar is soveel vulsel-opsies en jy kan selfs speserye en ander geure by die beslag voeg. Sien ‘n video met stappe hieronder en die volledige lys van bestanddele en metode.

Indien jy ‘n getekende kopie van “Martelize Kook!” vir Kersfees wil bestel, klik op “kontak my” by die opsies bo, stuur ‘n e-pos aan info@martelizebrink.co.za of stuur ‘n direkte boodskap op Facebook.

1 kg witbroodmeel (Hou altyd ekstra meel byderhand)

’n pakkie (10 g) kitsgis

15 ml sout

15 ml suiker of heuning

2 ½ koppies (625 ml) louwarmwater (Hou altyd ekstra water byderhand)

30 ml olyfolie

Hou ekstra meel byderhand vir die hantering van die roosterkoeke

Hierdie hoeveelhede bied ’n sag, stewige deeg vir ’n groot brood. Let wel, meel is soms droeer, afhangend van jou ligging en die seisoen. Hou dus altyd ekstra meel en water byderhand. Nadat jy goed geknie het behoort jy ’n sagte, maar stewige deeg te he wat nie klam aan jou hande vasklou nie.

Meng al die droë bestanddele bymekaar

Voeg water bietjie vir bietjie by tot jy ’n stewige deeg vorm wat maklik knie

Voeg die olie by

Knie vir minstens 10 minute of tot jou hande skoon is. Hoe langer jy knie hoe beter die brood. Voeg meer water of meel by indien jy sien die deeg is te pap of te droog

Laat rys vir so 40 minute of tot dit verdubbel het

Neem ‘n groot handvol van die witbrooddeeg en druk bietjie plat tot ’n langwerpige vorm ongeveer 5 mm dik

Plaas op meelbestrooide oppervlak en laat rys tot die roosterkoeke in grootte verdubbel het

Maak die vuur en krap kole eenkant vir die roosterkoeke. ‘n Matige tot hoe hitte is voldoende. Indien die hitte te laag is raak jou roosterkoek mettertyd te hard en indien die hitte te hoog is begin die roosterkoeke brand voor dit gaar is.

Ek draai die roosterkoeke met die hand, maar hou ’n oondhandskoen byderhand vir die draai van die roosterkoeke ingeval jy bang is vir brand.

Wanneer die kole reg is, plaas die roosterkoeke op die hitte

Hou dop en draai om wanneer dit goudbruin begin raak

Balanseer die roosterkoeke ook op hul kante om te bak

Wanneer die roosterkoeke gaar is sal dit ‘n hol klank he wanneer jy dit liggies slaan. Of druk ‘n mes langs die kant in. Indien dit skoon uitkom, is die roosterkoeke gaar.

Bedien met jou gunsteling vulsel.

Pin It on Pinterest

Share This