“As jy die dag foute gemaak het, vergeet dit

en hoop dit gaan môre beter”.

Elf jaar in radio.  ‘n Dekade plus een voel vir my soos ‘n stewige sessie vir ‘n loopbaan. Tog, wanneer ek na ons media-legendes kyk, besef ek ek is eintlik maar nog net ‘n groentjie.

Saans maak hy sy verskyning op die televisie en vertel ons in keurige Afrikaans van die wêreld se gebeure, en ná ‘n halfuur verdwyn hy weer van die kassie af. Hy’s soos ‘n skim.  Bestaan nie regtig nie.  Asof die Nuus om 7 sy enigste bestaansreg is. Maar by die onlangse KKNK het hy uiteindelik vir my mens geword.

Hy kom aangestap van agter die RSG verhoog.  Nogal heel “suave” met sy motorfiets polisieman-sonbril op.   “Hallo.  Ek luister lekker soggens na julle”.  Die legende.  Die man wat relevansie afdwing oor generasies heen.  ‘n Figuur wat deur beide moderne popkultuur en vooraanstaande leiers op verskillende gebiede in ons samelewing geag word.

Wat’s nuus? Riaan Cruywagen.   Wat vra jy vir ‘n legende in ‘n onderhoud?  Hoe slim wil jy nou regtig probeer klink?  Hoe diep wil jy delf op ‘n KKNK-verhoog met die son wat verbete almal probeer wegsmelt op ‘n laatoggend in die Klein-Karoo?

Voor die program begin het, het hy selfs vertel van sy potjie wat hy jare gelede met my pa gedeel het.  Soos dit ook later uit die “stokperdjie” en “wat geniet jy om in jou vrye tyd te doen”-deel van die onderhoud blyk, kook hy nie juis nie, maar ‘n pot, dié het hy al bemeester.

Nadat ons die luisteraars en gehoor verwelkom het by die KKNK, maak hy sy verskyning op die verhoog te midde van luide toejuiging deur mense wat die Maandag spesiaal opsygesit het om hom in lewende lywe te sien.

Riaan, nee, menéér Cruywagen, het ná 47 jaar in die uitsaaiwese besluit om ‘n boek bekend te stel oor sy lewe agter die mikrofoon en voor die kamera. RSG het hom genooi om regstreeks in Oggend op RSG te kom gesels oor die vele hoogtepunte, lesse en staaltjies wat oor die jare heen vir hom uitgestaan het. Van borrelbaddens omring deur meisies in bikini’s tot ‘n ander tipe mikrofoon, kitaar in die hand in ‘n rockvideo en selfs as ‘n aanbieder in die SAMA 18 toekennings.

Jy sien iemand vir jare op teleivisie en wonder water tipe mens hulle regtig is.  Daar is ‘n sekere verwagting.  Om eerlik te wees het ek iemand vreeslik neus-in-die-lig verwag.  Oordrewe ordentlikheid.  Ek het die heeltyd gedink ek sal elke woord rondom hom moet tel en te alle tye perfekte Afrikaans gebruik.

Ná die eerste paar vrae besef ek daar is geen rede om bekommerd te wees oor die onderhoud nie.  Glad nie geforseerd nie. Jy vra hom ‘n eenvoudige vraag en hy’s meer as gewillig om sy lewe vir jou op ‘n skinkbord uit te lê.  Nie net het meneer Cruywagen lekker gesels nie, hy het selfs begin dans op Pieter Smith se TV Keurspel. Gedurende “Heidi” is ons stasiebestuurder, Magdaleen Kruger, sommer vir ‘n langarm-draai op die verhoog gevat.

In Johannesburg gee meneer Cruywagen opleiding aan nuuslesers.  Iets wat ek nie self ervaar het nie.  Ek vra hom toe watter raad hy het vir ‘n omroeper wat nuus lees.  Ek sit en wag vir ‘n in-diepte analise van goeie nuusuitsendings en korrekte uitsprake, maar blykbaar voel sy tong ook soms soos ‘n droë spons wat maar net nie vir daardie oomblik ”Tc”ele van sy lippe kan laat rol nie.

“As jy die dag foute gemaak het, vergeet dit en hoop dit gaan môre beter”.

Dit gebeur min dat ek iemand om ‘n handtekening vra. Ná die onderhoud het hy gesit en tyd afgeknyp om voor in my kopie van Wat’s Nuus te skryf:  “Wat ‘n voorreg om ‘n mikrofoon met jou te kon deel.  Riaan Cruywagen”.  Beskeie neem ek die boek by hom terug.

Ek wonder hoe ons weeksaande gaan verander wanneer meneer Cruywagen eendag besluit om die nuusmikrofoon vir die laaste keer van sy lapel af te haak. Hy is ‘n legende ja, maar nou vir my ook net mens.

Dankie, Riaan!

This post is also available in: Engels

Pin It on Pinterest

Share This