Die oggend toe ek uitgevind het was daar “tegnologiese chaos” in die ateljee en ek moes letterlik die nuus gryp, 20 sekondes voor 09:00 en onvoorbereid die bulletin lees.  Ek het met ‘n halwe oor op Monitor gehoor daar is ‘n joernalis op ‘n baie jong ouderdom oorlede, maar die naam het my verby gegaan.

Halfpad deur die bulletin begin ek die storie lees van die oorlede joernalis, Mandy Rossouw.  Een van my Hoërskool Gimnasium Alma maters vir wie ek geweldig baie respek gehad het.  Geskok en met vier stories nog oor in die bulletin en die dansliedjie wat voorlê na die nuus probeer ek my reaksie bepaal.  Wat is nou die regte ding om te doen onder sulke omstandighede

In my geestesoog onthou ek ons tyd op skool en my verjaarsdag partytjie wat sy bygewoon het.  Mandy was ‘n wonderlik en geweldige slim persoon.

Na die bulletin besluit ek om op lug my medelye uit te spreek oor Mandy se dood, speel ‘n flits en vra toe maar vir Johan of hy die dansliedjie kan aankondig. Dit het eenvoudig net nie reg gevoel nie.

Dit het my ook herinner aan die tyd toe my pa oorlede was en ek ‘n paar dae daarna ‘n program moes aanbied. Dit was Desember-vakansie en niemand anders was beskikbaar om Reis Sonder Grense saam te stel nie.  Net soos daardie dag moes ek voortgaan op lug vir drie ure asof alles normaal is. Mense se lewens gaan mos maar voort.  ‘n Ma luister na die program en wag vir die omroeper se beloofde resep.  ‘n Student sien uit na die fiksheidsgesprek en  ‘n siel op wiele wil uitvind wat daardie week in die Vat 4 kompetisie gewen kan word.

Ek het hierdie blog begin skryf met die gedagte om te gesels oor die impak wat ons op die wêreld het nadat ons die lewe agterlaat, maar ek besef nou ek wil eintlik net sê, daar is baie mense wat ons verlaat “voor hulle tyd”, maar so geweldige indruk op ons lewens gemaak het.  Dankie.

Pin It on Pinterest

Share This