Wat het geword van net “wees”. Stil sit. Sonder druk. En sonder die alewige skuldgevoelens wat daarmee gepaardgaan? Ek dink nie eens deesdae kan die “Joneses” byhou by die “Joneses” nie. Ek sien daai mense wat entrepreneurs is, kinders by die huis het, met 4 ure ’n nag se slaap oor die weg kom, fiks is met hul pragtige huise en perfekte verhoudings en al wat ek kan dink is vaderland, waar kom die energie vandaan? (Dit maak my moeg net om die sin te lees). Is daar ’n pil wat die mense elke oggend sluk om daardie tempo vol te hou?

Ek onthou tye in my lewe, veral toe ons kinders was waar daar hierdie rustigheid en kalmte in die huis was. Veral op Sondae. Deesdae is daar ’n oorweldigende verwagting, nie net van ander mense af nie, maar ook van jouself om altyd sosiaal te verkeer en produktief te wees.

Nee, ek het geen planne vir die naweek nie.  Na werk gaan ek huis toe, oefen, eet, lees of kyk bietjie tv.  Dis amper asof jy ’n vloekwoord gebruik. Hoe durf jy so eenvoudig wees dat jy nie Saterdagoggend vroeg-vroeg uit die bed is en die winkels en markte invaar en iewers nuut en “trendy” gaan eet nie?

Geen wonder mens is helfde van die tyd so gedaan nie. Hoekom is die idee van “besig wees” belangriker as om rus in te kry?  My “voor nuwejaar”-nuwejaarsvoorneme is om tyd te maak om net te “wees”.

Pin It on Pinterest

Share This