“As dit nie in die huis is nie, kan jy dit nie eet nie”

My eerste aand in die VSA besluit ek om ‘n ligte ete te bestel in ‘n restaurant.  ‘n Nacho voorgereg.  Toe die voorgereg op my tafel neergesit word was dit soos ‘n grap.  Die ander mense aan die tafel kon nie glo wat hulle oë sien nie.  Die sogenaamde voorgereg was genoeg vir 4 mense, as HOOFGEREG.  Nou sit jy met ‘n interne stryd.  Verlustig jy jouself aan alles voor jou op die tafel staan net omdat daar is, of eet jy soveel soos jy oorspronklik wou eet en los die res? Dis ‘n sonde om kos weg te gooi! Maar ek vra ‘n eenvoudige vraag. Is jý die vullisdrom, of is die vullisdrom die vullisdrom?

Elke jaar het ek maar net weer in die klerewinkels besef, “jy moet alweer die jaar een nommer groter koop”.  Baie mense probeer, sonder sukses, keer op keer om op te hou met rook.  Tot eendag wanneer alles net reg verloop en hulle hul laaste sigaret rook.

Vir my was dit so.  Jou liggaam praat met jou.  Ek glo dieselfde geld as dit kom by gewigsverlies.  Selfs om, wanneer jy opgehou het met rook, nie weer te begin nie.  Dieselfde geld wanneer jy al die gewig verloor het om dit nie weer aan te sit nie.

Vir die volgende paar blogs gaan ek alles wat ek geleer en gedoen het om van ‘n nommer 18/20 tot ‘n nommer 8/10 te beweeg vir jou vertel.

Die grootste stryd is in jou kop.  Dit is waar die beheer lê.  Om ánders na kos te kyk, is geweldig belangrik.  ‘n Eier is nie net ‘n eier nie.  ‘n Pakkie skyfies is nie net ‘n pakkie skyfies nie.  ‘n Eier bestaan uit verskillende dele, almal baie voordelig vir die mens se dieet, maar die eiergeel bevat byvoorbeeld ook baie vet.  Goeie vette, maar dit moet verbrand word.  Ek kan dus nie sê, ek eet ‘n omelet van 6 eiers en verwag dit gaan nie ‘n effek op my gewig hê nie, want jy sien, eiers is mos gesond vir jou.  Eet eerder 5 eierwitte met 1 heel eier.

Dit is moeilik aan die begin.  Jou palet is gewoond aan sekere dinge.  Byvoorbeeld “Stir fry”-rys met wit rys is baie lekkerder as bruin rys.  Volgraan pasta is aaklig in vergelyking met pasta wat 100% met wit meel gemaak word. Aan die begin trek jou gesig skoon skeef wanneer jy ‘n slukkie neem van daardie swart, bitter koffie.  Maar los eers die melk uit en behou die suiker.  Ná ‘n ruk los jy die suiker ook stadig maar seker uit.

Voor jy dit weet kan jy jou glad nie indink om koffie met melk en suiker te drink nie. Wanneer jy elemente stadig maar seker by jou dieet inwerk en ander uitskakel, verander jou smaak.  Ek eet héérlik aan ‘n eierwit.  Dit pla my glad nie om soggens vetvrye jogurt te eet nie, en die smaak van spek word nie meer so baie gemis by ‘n groot ontbyt nie.

Een van die beste wenke wat ek kan bied is:  As dit nie in die huis is nie, kan jy dit nie eet nie.  Saans, ‘n rukkie nadat ek my gesonde bord kos geëet het, raak ek soms soos ‘n aasdier.  Ek soek enige iets om aan te kou.  Die kaste word deurgekyk vir al wat ‘n lekkerny is.  Dis eenvoudig.  As dit nie in die kas is nie, kan ek dit nie eet nie. En jy moet darem baie lus vir iets wees as jy in die kar klim om ‘n pak skyfies of ‘n sjokolade te gaan koop.

Die een tyd wanneer ek wel “verkeerde” kos in die huis het, is wanneer ek mense nooi vir ete.  Dan word daar vars brood gebak en ryk hoofgeregte voorgesit.  Nagereg met skuimpies en room.  My reël.  Eet heerlik saam met almal, maar alles wat oorbly word óf met die gaste in oorskietsakkies huis toe gestuur, óf dadelik gevries, óf dadelik vir ‘n behoeftige persoon gegee,. of (ek gaan dalk hel toe vir die een) word dadelik direk in die vullisdrom gegooi.

Óf jý is die vullisdrom, of die vullisdrom is die vullisdrom.  Dit gaan in een van hierdie rigtings of dit gaan na my maag toe. Glo my, ek het dit al getoets.  Heel onskuldig alles in bakkies geskep en in die yskas gesit om môre vir iemand te gee, en voor jy dit weet het jy nog ‘n paar happe gevat.

Iets wat ek ook met tyd besef het is die geweldige “leuens” wat die “wêreld” aan verbruikers verkoop.  Dit word dalk nie met negatiewe bybedoelings bemark nie, maar dit het wel ‘n groot effek op hoe ons verbruik.  “Ag, bederf jouself vandag met ‘n stukkie koek.” “Daar is niks fout met ‘n romerige cappuccino elke nou en dan nie.” “Braai ‘n tjoppie en wors. Een keer ‘n week is oukei.”  Maar wat gebeur as jy al hierdie “dis oukei”-oomblikke bymekaar voeg?  Jy bly sit met ‘n feestafel vol bederf, en weinig dae wanneer jy 100% reg eet.

Die eerste uitdaging dus:.  Kyk eerlik na elke liewe ding wat jy in jou mond sit.  Dieetkundiges is kenners wat vir jou kan sê presies waaruit bestaan ‘n jellytot en hoeveel tree daardie net-elke-nou-en-dan-onskuldige-jellytot jou gaan kos om af te werk.  Glo my, soos ek hier preek, preek ek maar ook elke dag vir myself.

Sterkte met die eerste stap!  Dit sal die beste besluit wees wat jy nog ooit in jou lewe geneem het.

Pin It on Pinterest

Share This