Die wynlande en van ons top restaurante vier tot Sondag 7 dae van Shiraz met heerlike wildsvleis-resepte wat perfek by die kultivar pas. Hieronder is 3 resepte om die naweek te geniet. Daar was net genoeg plek vir 2 van die resepte in die onlangse Burger Versnit. Hiermee al drie, insluitend die kwartel-resep wat jy eenvoudig MOET probeer. Die sous is ‘n wenner.

 

Kwartel met lemoen, soja en shiraz-sous. Boschendal se Shiraz is ‘n goeie pasmaat vir die kwartel. 

 

6 kwartels is genoeg vir ‘n voorgereg vir 6 mense

Vir ‘n hoofgereg wil jy 2 per person voorsit

1 eetlepel botter per kwartel

 

Braai die kwartels aan alle kante in die botter, twee op ’n slag in ’n pan tot ligbruin. Bedruip die kwartel met die botter terwyl dit braai.

Plaas die gebraaide kwartels in ’n oondbak

 

Vir die sous:

1 ui fyngesny

2 knoffelhuisies fyngesny

sap van 3 lemoene

1 teelepel heuning (afhangend van hoe soet die lemoene is, kan nog heuning aan die einde bygevoeg word)

roosmaryn (1 takkie vars of 1 teelepel gedroogde roosmaryn)

1 rissie (opsioneel)

500 ml (2 koppies) hoenderaftreksel

250 ml (1koppie) rooiwyn

100 ml sojasous

peper

olie

 

Braai die ui en knoffel oor matige hitte tot sag en deurskynend

Voeg die res van die sous bestanddele by die pan en prut tot die sous halfveer

 

Verhit die oond tot 220 grade Celsius

Plaas die kwartels in die oond en bak vir ongeveer 20 minute

Bedien met die sous op kapokaartappels of jou gunsteling groente.

 

Impala-rugstring op die kole met Shiraz en appelkooskonfytsous. Babylonstoren se Shiraz is ‘n goeie pasmaat vir die gereg. 

 

4-6 mense

Die rugstring word eers op die kole geseël wat dit ‘n heerlike rokerig en gebraaide geur gee en word vir 15-20 minute in die oond klaar gemaak.

 

1 kg Impala rugstring (dit kan met bv. Springbok of Gemsbok vervang word)

200 ml eendvet (kan met botter vervang word)

100 ml worcestersous

sap van 1 suurlemoen

sout en peper na smaak

 

Voorverhit die oond tot 180 grade Celsius

 

Meng die eendvet met die worcestersous, suurlemoen, sout en peper.

 

Maak jou vuur en wag tot jy met lekker warm kole sit. Smeer die rugsting met die eendvet-mengsel en hou die res byderhand om die rugstring te bedruip terwyl dit op die kole seël. Wees versigtig, die eendvet sal die vuur laat opvlam. Dit sal ook die rugstring maklik laat brand indien jy nie dophou nie. Braai die rugstring op alle kante vir ongeveer 4 minute of tot dit karamaliseer en ‘n bruin, bros kleur ontwikkel.

 

Plaas die rugstring in die oond en bak vir 15 – 20 minute. Toets met ‘n kostermometer of die vleis gaar is deur dit so 2 sentimeter in die vleis te druk. Mik vir 50 – 55 grade Celsius vir die vleis om pienk binne in te wees. Vir medium tot gaar, 60 grade Celsius. Vir gaste wat van ‘n gaarder vleis hou, kan hul aparte porsies weer in die oond gaan of in ‘n pan gaarder gebraai word.

 

Vir die sous:

1 medium groote ui fyn gesny

500 ml kookwater

500 ml rooiwyn

500 ml hoenderaftreksel

30 ml worcestersous

2 eetlepels appelkooskonfyt

5 jeneferbessies

2 stukkies vars tiemie (of ‘n teelepel droe tiemie)

1 teelepel botter

sout en peper na smaak (voeg sout aan die einde van die kookproses by, indien nodig)

 

Plaas die fyn ui in ‘n pan, voeg 2 koppies kookwater by en kook tot dit deurskynend is en water afgekook het. Dit maak die ui sag en soet.

Voeg die res van die bestanddele by die pan en prut tot die sous halfveer het.

Roer die botter aan die einde by.

Sny die rugstring in porsies en bedien met die sous.

Cannelloni gevul met flenter-Springbokskouer. Alvi’s Drift is ‘n goeie pasmaat vir die gereg. 

 

4 mense

 

Die resep lewer ongeveer 16 cannelloni. Verdubbel die resep vir twee oondbakke vol cannelloni, genoeg vir 6-8 mense.

 

100 g skaapstertjies

1 groot ui opgesny

2 knoffelhuisies opgesny

500 g springbokskouer (enige soortgelyke wildsvleis sal werk)

4 wortels fyn opgesny

500 ml (2 koppies) rooiwyn

500 ml (2 koppies) hoenderaftreksel

250 ml (1 koppie) port/cape tawny (die port kan met 2 hande rosyntjies vervang word)

2 loerierblare

2 teelepels fyn komyn

2 teelepels vinkel

olyfolie

10 heel peperkorrels

1 teelepel sout

250 ml room

100 g parmesankaas (en ekstra vir die tafel)

cannelloni (3-4 per persoon) Droe cannelloni is in winkels beskikbaar. Ek het vars pasta gemaak. Dit is heerlik in die resep en makliker om met die vleis te vul. Gebruik vars pasta blaaie van 7 sentimeter breed en 12 sentimeter lank.

 

Verhit ’n pot en braai die skaapstertjies tot ligbruin en verwyder van die pot.

Braai die ui en knoffel in die skaapstertjievet tot ligbruin en verwyder van die pot.

Braai die vleis in olyfolie tot ligbruin.

Voeg al die bestanddele behalwe die room, parmesankaas en cannelloni in die pot en prut vir 2-3 ure of tot die vleis maklik flenter en al die vog afgekook is. Voeg water by na ’n uur of twee indien die pot droog gekook het. Roer gereeld aan die einde om vasbrand te voorkom.

Laat die vleis afkoel en verwyder alle bene sorgvuldig.

 

Maak seker die vleis is afgekoel, maar nie yskas koud nie, anders gaan dit moeilik in die pasta gestop word.

Bring ’n groot pot met water en ’n teelepel sout tot kookpunt en kook die cannelloni tot gaar. Die droe cannelloni sal langer kook. Die vars pasta hoef net 3-4 minute gekook word. Skep uit en plaas, geskei van mekaar op ’n bord met ’n bietjie olyfolie op. Laat afkoel.

Verhit die oond tot 200 grade Celsius.

Stop die cannelloni, indien jy gedroogde winkel cannelloni gebruik met die vleis of rol die vars, gaar cannelloni met vleis binne in en rangskik in die oondbak wat met olyfolie gesmeer is.

Giet die room bo oor die cannelloni en sprinkel die parmesankaas oor.

Bak vir ongeveer 30 minute of tot die cannelloni ligbruin is.

 

 

Pin It on Pinterest

Share This