“Een ding wat ek van fotograwe versoek, is ‘n repertoire van grappe, want vals lag is nie een van my sterkpunte nie.”

‘n Stilis, haarkapper, grimeerkunstenaar, fotograaf, sy assistent en een gewillige (effe senuweagtige) radio-omroeper. Vyf mense, vier ure, een foto.

Dit verbaas my altyd hoeveel werk, tyd en mannekrag deur tydskrifte bestee word om daardie storie en glans aan lesers te bied.  Dis tog net ‘n foto.  Tooi so bietjie op, glimlag, klik.  Toe nou glad nie so eenvoudig nie.

Ek was al deel van baie fotosessies, maar dié een was op ‘n heel ander vlak.  Gewoonlik soek hulle jou agter die mikrofoon in die ateljee, besig om ‘n groetekaartjie te lees, maar dié keer was ek in die fotograaf se kiekie-nes.

Ek kom in by die deur en is dadelik op my gemak.  Vriendelike gesigte groet jou. Is dít wat ek ook doen met senuweagtige gaste wat naels kou voor ‘n onderhoud wat oor vyf minute regstreeks uitgesaai word?

‘n Maand vroeër het ek gedurende ‘n heerlike middagete met Riëtte Rust gesels om haar vrae vir die artikel te beantwoord. Vreemd hoeveel meer gemaklik dit is om jou siel aan mense in ‘n redelik persoonlike onderhoud te ontbloot, maar sit my voor ‘n kamera en my gemaksone is in sy peetjie.

Op dié spesifieke dag het die Sarie-stilis Danny Toua “Hollywood” in gedagte gehad. “Ons wil jou glam maak, Martelize”. Ek sê maar net ja, en wonder stilweg hoe op dees aarde sy dit gaan regkry.

Dit fassineer my altyd watter kunsies gebruik word om mense so goed in tydskrifte te laat lyk.  Nie net Photoshop nie, maar die soorte grimering, die hoevéélheid grimering, die haarprodukte, klere, beligting.

In die ateljee is alles ingespan om die effek te bereik wat Danny nou al weke lank in gedagte het.  Terwyl al die voorbereiding gedoen word, gesels ons land en sand oor almal se lewens en ek kry kans om sommer so tussendeur die grimering ‘n onderhoud met my mikrofoon in te pas.

Die rok is aangetrek, die stywe onderklere in posisie en die push-up-bra in posisie. Ná superluukse bevogtigingsproei, lae grimering en my hare wat opgetof is, is dit tyd vir vogue.  Vinnig word jy bewus van die druk om die perfekte foto te kry.

‘n Groot goue stoel is ingespan om glans aan die foto te verleen.  Sittende op my “troon” gee ek myself oor aan die mense rondom my.  Die hopeloos te aantreklike fotograaf is besig om my rok reg te trek en my arms in net die regte posisie te plaas, terwyl die grimeerkunstenaar en haarkapper hul harde werk verfyn met ‘n druppel haarsproei hier en ‘n bietjie glans op my lippe.

Een ding wat ek van fotograwe versoek, is ‘n repertoire van grappe, want vals lag is nie een van my sterkpunte nie.   Gelukkig was die man agter die kamera sjarmant genoeg om elke 30 sekondes ‘n spontane lagbui te inspireer.

Ek maak die aanname dat elke vrou in een of ander stadium in haar lewe daarvan droom om juis só aangetrek en geverf te word deur ‘n groep mense wat weet wat hulle doen.  En om dan deur ‘n slap, luukse voertuig afgelaai te word voor ‘n rooi tapyt waar mense wag om te oe en te aa oor hoe fantasties jy lyk.

Hoe moeilik kan dit tog nou regtig wees om ‘n model se werk te doen? Jy word gebore met die perfekte “oppervlakkige” gene, “pose” en glimlag. Jy flikker jou wimpers en voilá, hulle betaal jou derduisende rande.  Nuwe respek mense, nuwe respek.

“Draai jou kop skuins”.  “Glimlag breed.” “Ontspan jou hand.” “Leun vorentoe”.  “Wonderlik!”  Eerste stel foto’s geneem.  Nou ‘n paar aanpassings aan my posisie, klere, hare en dan die volgende poseer-sessie.  Jy sal dink dis maklik om tegelyk te onthou om breed te glimlag, jou kop op ‘n sekere hoek te draai en tog asseblief net daardie hand ontspanne te hou.  Helaas . . .

Genadiglik was die fotosessie vinnig verby en almal drom saam rondom ‘n tafel met ‘n yslike Mac-skerm sodat daar moontlike “wen”-foto’s tussen al die misoeste uitgekies kan word. Die keuse van foto berus natuurlik by die Sarie-redaksie.

Ná ‘n hele dag van vlinders in my maag kan ek opreg sê dit was ‘n wonderlike middag saam met ‘n span hoogsprofessionele, kreatiewe en opregte mense. Terwyl ek wonder watter foto die Sarie-redaksie gaan kies, trek ek dankbaar weer my gemaklike dagklere aan. Met my bloed nog vol adrenalien en my gegrimeerde gesig is ek daar weg.

En hoewel die middag nou nie juis my frontale lob oefening gegee het nie, besef ek tog ons kan almal maar elke nou en dan ‘n bietjie glans geniet.

Dankie, Sarie!

Pin It on Pinterest

Share This